18 vanjaar gestroop
Een plaas in die streek word herhaaldelik sedert Februarie geteiken met twee witrenosters wat gestroop is en twee wat gekwes is.
Francoise Steynberg
Altesaam 18 renosters is vanjaar vir hul horings afgemaai met 13 in beskermde gebiede en vyf op kommersiële plase.
Elf wit- en vyf swartrenosters is gestroop met die ander twee wat onbekend is, het die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, Vilho Hangula, gister aan Republikein bevestig.
Die jongste twee voorvalle het die afgelope week in die Kunenestreek plaasgevind.
Volgens die Namibiese polisie (Nampol) se misdaadverslag van die naweek is ’n man wat tydens ’n skietvoorval met ’n eenheid vir teenstropery op ’n plaas gewond is, na die Outjo-staatshospitaal vir mediese behandeling geneem.
Intussen is bevestig dat die een verdagte wat glo gepoog het om ’n renoster op die plaas te stroop, ernstig gewond is en na ’n hospitaal in Windhoek oorgeplaas is.
Nampol beweer dat twee mans, onderskeidelik 30 en 45 jaar oud, omstreeks 09:00 Saterdag die plaas binnegegaan het en deur veldwagters op patrollie opgemerk is. Die verdagtes het na bewering op die veldwagters losgebrand nadat hulle hulle gesien het. Die veldwagters het teruggeskiet en die 30-jarige man gewond.
Die 45-jarige verdagte, bekend aan die plaaseienaar, het gevlug.
Die polisie het gesê ’n jaggeweer, twee patrone, twee leë patroondoppies, ’n mes, ’n byl, brood en aartappelskyfies is op die toneel gevind.
Nóg ’n verdagte – en na bewering die wegkombestuurder – ’n 35-jarige man, is ook in hegtenis geneem nadat hy in ’n wit sewesitplek-voertuig gevind is wat naby die plaas geparkeer was.
Die verdagtes word ondersoek vir die sameswering om spesiaal beskermde wild te jag en vir betreding.




















