Verminder mens-dier-konflik
Volgens die beramings het die land ongeveer 1 200 jagluiperds, tussen 130 en 350 wildehonde in 35 troppe en slegs sowat 12 woestynaangepaste leeus langs die Skedelkus.
Hoofredaksie
Die jongste bevolkingsramings van groot karnivore het die dringendheid van gekoördineerde optrede beklemtoon om mens-dier-konflik te verminder en die toekoms van Namibië se groot karnivore te verseker.
Volgens die beramings het die land ongeveer 1 200 jagluiperds, tussen 130 en 350 wildehonde in 35 troppe en slegs sowat 12 woestynaangepaste leeus langs die Skedelkus.
Die Groot Karnivoor Bestuursvereniging van Namibië (LCMAN), in samewerking met die Wêreldnatuurfonds (WWF) Namibië, het Vrydag ’n vergadering in Windhoek met meer as 40 rolspelers gehou.
Hulle sluit in regeringsamptenare, navorsers, boere, jagters en lede van die toerismesektor. Amptelike voorleggings is deur die Cheetah Conservation Fund (CCF), WWF, die Desert Lion Conservation Project (DLCP), die Kalahari African Wild Dog Conservation Project (KAWDCP) en die Leibniz Instituut vir Dieretuin- en Wildnavorsing (IZW) gedoen.
Ander organisasies wat teenwoordig was, sluit in die Conservancy Association of Namibia (CANAM), die Namibië Professionle Jagtersvereniging (Napha), die Namibian Community Based Natural Resource Management Support Organisation (Nacso), Namibia Nature Foundation (NNF), Integrated Rural Development and Nature Conservation (IRDNC), N/a’an ku sê Wildlife Foundation, die Kwando Carnivore Project (KCP), die Brown Hyaena Research Project (BHRP), die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP), die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme (MEFT), boere en lede van die toerismesektor. Hulle het bygedra tot die besprekings oor die verskeie onderwerpe oor groot karnivoorbewaring.
Namibië is die tuiste van 34 karnivoorspesies, insluitend sommige van Afrika se mees ikoniese en wydverspreide roofdiere.
Hierdie spesies staar egter toenemende bewaringsuitdagings in die gesig.
Dr. Tim Hofmann (CCF) het ’n oorsig aangebied wat toon dat 11 van die 34 karnivoorspesies as óf bedreig (ses spesies) óf byna bedreig (vyf spesies) in Namibië beskou word.
Groot karnivore word oor die algemeen meer as medium en klein karnivoorspesies bedreig, terwyl die katte (Felidae) ’n hoër proporsie bedreigde spesies (vier uit sewe) as ander karnivoorfamilies het, volgens CCF.




















