Duisende beeste ingeënt
Die landbouminister sê daar is geen fisiese verband tussen die uitbrekings van bek-en-klouseer in ||Kharas en Zambezi nie.
Eliot Ipinge
Die Zambezistreek se buffelbevolkings in beskermde gebiede en die voortdurende uitbrekings van bek-en-klouseer (BKS) in buurlande, plaas dié streek in ’n hoë risiko vir verspreiding.
Die woordvoerder van die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming, Romeo Muyunda, het verlede tydens ’n inligtingsessie gesê die streek bly kwesbaar vir die hoogs aansteeklike veesiekte.
Dit is selfs al het owerhede sedert 12 Oktober nog geen nuwe kliniese gevalle aangemeld nie en word daar voortgegaan om duisende beeste in te ent om die uitbreking te beperk wat op 7 Oktober op Kalala-eiland bevestig is.
Hy het ook gewaarsku dat die afwesigheid van nuwe kliniese gevalle nie beteken dat oordrag uitgeskakel is nie.
Muyunda het beklemtoon voortgesette waaksaamheid en die nakoming van die beperking van die beweging van diere, asook biosekuriteitsmaatreëls bly noodsaaklik om verdere verspreiding te voorkom.
Die uitbreking op Kalala-eiland het tot noodinenting, aktiewe toesig en die bekendstelling van bykomende bewegingsbeheermaatreëls gelei.




















