Buffels hoërisiko vir BKS

Duisende beeste ingeënt

Die landbouminister sê daar is geen fisiese verband tussen die uitbrekings van bek-en-klouseer in ||Kharas en Zambezi nie.

Eliot Ipinge

Die Zambezistreek se buffelbevolkings in beskermde gebiede en die voortdurende uitbrekings van bek-en-klouseer (BKS) in buurlande, plaas dié streek in ’n hoë risiko vir verspreiding. 

Die woordvoerder van die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming, Romeo Muyunda, het verlede tydens ’n inligtingsessie gesê die streek bly kwesbaar vir die hoogs aansteeklike veesiekte. 

Dit is selfs al het owerhede sedert 12 Oktober nog geen nuwe kliniese gevalle aangemeld nie en word daar voortgegaan om duisende beeste in te ent om die uitbreking te beperk wat op 7 Oktober op Kalala-eiland bevestig is. 

Hy het ook gewaarsku dat die afwesigheid van nuwe kliniese gevalle nie beteken dat oordrag uitgeskakel is nie.

Muyunda het beklemtoon voortgesette waaksaamheid en die nakoming van die beperking van die beweging van diere, asook biosekuriteitsmaatreëls bly noodsaaklik om verdere verspreiding te voorkom.

Die uitbreking op Kalala-eiland het tot noodinenting, aktiewe toesig en die bekendstelling van bykomende bewegingsbeheermaatreëls gelei. 

INENTINGSVELDTOG

Volgens Muyunda is 7 922 beeste by 11 krale as deel van ’n strategiese inentingsprogram ingeënt wat van 12 Oktober tot Woensdag sal duur. Sewe veeartsenykundige spanne is vir die program ontplooi. Dit volg op noodinenting waartydens 2 942 beeste van 7 tot 9 Oktober in Kalala ingeënt is. ’n Verdere 558 beeste by drukkrale wat tydens die aanvanklike oefening gemis is, is op 12 Oktober ingeënt.

Die ministerie het ook toesig verskerp om vas te stel of die siekte na bykomende kuddes versprei het. Volgens Muyunda het ses veeartsenykundige spanne 6 222 beeste by 17 krale tydens aktiewe toesig ondersoek, sonder dat enige bykomende gevalle opgespoor is. Verlede week het die ministerie aangedui geen nuwe kliniese gevalle is sedert 12 Oktober aangemeld nie.

Die ministerie het egter gewaarsku dat die jongste bevindinge nie geïnterpreteer moet word as bevestiging dat die uitbreking uitgewis is nie.

Muyunda het gesê die teenwoordigheid van buffels in beskermde gebiede, tesame met voortdurende uitbrekings in buurlande, stel die streek steeds bloot aan die risiko vir BKS.

Die ministerie het nie die bron van die Zambezi-uitbreking tydens die inligtingsessie geïdentifiseer nie en die teenwoordigheid van buffels is as ’n risikofaktor beskou eerder as bevestiging dat wildlewe die huidige uitbreking veroorsaak het.

PADBLOKKADES

As deel van pogings om die siekte te beperk, is vyf strategiese padblokkades verlede week by Kongola, Selela, Luhonono, Bukalo en Nakabolelwa opgestel.

Die padblokkades het ten doel om beheer oor die beweging van kwesbare diere en diereprodukte te versterk en ongemagtigde bewegings te voorkom wat tot verdere oordrag kan bydra.

Muyunda het veeboere, handelaars en ander belanghebbendes aangespoor om te voldoen aan die beperkings wat deur veeartsenykundige amptenare opgelê word.

Hy het ook ’n beroep gedoen op boerderygemeenskappe, die veebedryf, die media en lede van die publiek om verdagte bewegings van diere, vleis en vleisprodukte buite voorgeskrewe gebiede en in stryd met beperkings wat deur veeartsenykundige amptenare opgelê word, aan te meld.

Hy het gesê vroeë rapportering van verdagte gevalle, streng nakoming van die beheer van dierebewegings en die nakoming van biosekuriteitsmaatreëls bly noodsaaklik om verdere verspreiding van die siekte te voorkom.

Volgens Muyunda is daar geen fisiese verband tussen die uitbreking in Zambezi en ||Kharas nie, ten spyte daarvan dat dit binne weke van mekaar bevestig is.

– eliot@nmh-hub.com.na

Leave a Comment

Scroll to Top