Kunene loop deur onder renosterstropers

Een van die verdagtes is ernstig Saterdag ernstig gewond en intussen van die Outjo-staatshospitaal na \'n Windhoekse hospitaal oorgeplaas. Foto verskaf

18 vanjaar gestroop

Een plaas in die streek word herhaaldelik sedert Februarie geteiken met twee witrenosters wat gestroop is en twee wat gekwes is.

Francoise Steynberg

Altesaam 18 renosters is vanjaar vir hul horings afgemaai met 13 in beskermde gebiede en vyf op kommersiële plase.

Elf wit- en vyf swartrenosters is gestroop met die ander twee wat onbekend is, het die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, Vilho Hangula, gister aan Republikein bevestig. 

Die jongste twee voorvalle het die afgelope week in die Kunenestreek plaasgevind. 

Volgens die Namibiese polisie (Nampol) se misdaadverslag van die naweek is ’n man wat tydens ’n skietvoorval met ’n eenheid vir teenstropery op ’n plaas gewond is, na die Outjo-staatshospitaal vir mediese behandeling geneem.

Intussen is bevestig dat die een verdagte wat glo gepoog het om ’n renoster op die plaas te stroop, ernstig gewond is en na ’n hospitaal in Windhoek oorgeplaas is.

Nampol beweer dat twee mans, onderskeidelik 30 en 45 jaar oud, omstreeks 09:00 Saterdag die plaas binnegegaan het en deur veldwagters op patrollie opgemerk is. Die verdagtes het na bewering op die veldwagters losgebrand nadat hulle hulle gesien het. Die veldwagters het teruggeskiet en die 30-jarige man gewond. 

Die 45-jarige verdagte, bekend aan die plaaseienaar, het gevlug.

Die polisie het gesê ’n jaggeweer, twee patrone, twee leë patroondoppies, ’n mes, ’n byl, brood en aartappelskyfies is op die toneel gevind. 

Nóg ’n verdagte – en na bewering die wegkombestuurder – ’n 35-jarige man, is ook in hegtenis geneem nadat hy in ’n wit sewesitplek-voertuig gevind is wat naby die plaas geparkeer was.

Die verdagtes word ondersoek vir die sameswering om spesiaal beskermde wild te jag en vir betreding.

Die dragtige renosterkoei is verlede Maandag in die Kunenestreek gestroop en haar bulkalf in die been gekwes. Foto verskaf
Die dragtige witrenosterkoei is verlede Maandag met tien skote neergevel. Foto verskaf

HERHAALDELIKE BETREDING

Volgens die eienaar van die plaas was daar herhaaldelike betreding op sy plaas met ’n witrenoster wat in Februarie geskiet is, een is in Maart gekwes, weer een in April geskiet en nóg een in Mei gekwes.

“Die bestuurder van die wegkomvoertuig het gesê hy het al twee keer dieselfde verdagtes by my plaas kom aflaai, gewoonlik met donkermaan.”

Die voortvlugtige is volgens die eienaar uit op borgtog nadat hy met horings gevang is.  

Die stropers het die horings verwyder nadat die dragtige witrenosterkoei verlede Maandag geskiet is. Foto verskaf

ANDER VOORVAL VAN STROPERY

Op ’n ander plaas in die Kunenestreek is ’n dragtige witrenosterkoei verlede Maandagoggend met tien skote neergevel en haar horings verwyder. 

Volgens die eienaar van die plaas was die koei nege maande dragtig en die ongebore kalf se lewe is ook geëis. Boonop is die koei se bulkalf in die been gekwes.   

“Dit was aaklig! Ek is so hartseer om ná 14 jaar van haar afskeid te neem en sy was so ’n goeie ma,” het die eienaar emosioneel aan Republikein gesê.

“Die gekweste kalf word in ’n veilige kamp gemonitor en die wond is deur ’n veearts toegewerk. Die kalf sal hierdie week X-strale kry om te sien of daar enige skade aan die been is. Ons bid daar is nie.”

Geen verdagtes is tot dusver in verband met dié voorval in hegtenis geneem nie. Die plaaseienaar het enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, versoek om Nampol te kontak, met die belofte van ’n beloning.

Volgens die eienaar is verskeie items wat na bewering deur die stropers agtergelaat is, teruggevind en vir forensiese en DNS-ondersoeke beveilig, berig Desmarius Hansen.

Die eienaar het gewaarsku dat die horing moontlik onbekende forensiese en teenstropery-elemente bevat. Hy het ook gewaarsku dat die gebruik van die horing tot ernstige mediese probleme kan lei, hoewel hy nie bekend gemaak het wat presies dit is nie.

– francoise@nmh.com.na

Leave a Comment

Scroll to Top