Streng Vereistes Vir Invoer Van Veevoer Uit SA

Streng vereistes geld vir die invoer van voer uit Suid-Afrika. Foto ter illustrasie Facebook

Ondanks die Suid-Afrikaanse veebedryf wat tans gebuk gaan onder bek-en-klouseer, is die invoer van veevoer uit die buurland na Namibië wel moontlik, maar volgens die Namibië Landbou-unie (NLU) moet daar aan streng vereistes voldoen word

Ondanks die Suid-Afrikaanse veebedryf wat tans gebuk gaan onder bek-en-klouseer, is die invoer van veevoer uit die buurland na Namibië wel moontlik, maar volgens die Namibië Landbou-unie (NLU) moet daar aan streng vereistes voldoen word:

• Die veevoer mag slegs van plekke in Suid-Afrika kom waar geen bek-en-klouseer voorkom nie en waar streng biosekuriteitsmaatreëls toegepas word.

• Geen gesplete hoefdiere mag toegang gehad het tot die area waar die voer gegroei en geoes word nie.

• Die voer moet vry wees van enige geïdentifiseerde kontaminasie, insluitend materiaal van dierlike oorsprong.

• Die voer moet aan een van die volgende behandelings onderwerp word:

1. Stoom: Bale moet in ’n geslote kamer gestoom word. Die middel van die bale moet ’n minimum temperatuur van 80 ˚C vir tien minute bereik, of

2. Beroking: Bale moet in ’n geslote kamer berook word (formaldehied-gas, oplossing 35-40%) vir ten minste agt uur by ’n temperatuur van 19 ˚C, of

3. Die veevoer moet vir vier maande gebaal en in isolasie/kwarantyn gehou word.

• Die voertuig wat veevoer vervoer moet volgens sekere vereistes skoongemaak en ontsmet word. Dit moet spesifiek met veeartsenykundige goedgekeurde middels ontsmet word wat doeltreffend is om die bek-en-klouseer-virus te deaktiveer.

Tydens ’n vergadering wat in Desember 2023 tussen die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), veeprodusente en die direktoraat veeartsenydienste in die ministerie van landbou, water en grondhervorming belê is, is gefokus op die noodsaaklikheid om Namibië se dieregesondheidstatus te beskerm.

Dr. Vistorina Benhard, die staatsveearts wat betrokke is by invoer- en uitvoerbeheer in Namibië, het bevestig dat die beginpunt vir enige produsent wat veevoer wil invoer, sal wees om die plaaslike staatsveeartsenykantoor te kontak in die gebied van waar die veevoer kom. Daardie veearts moet die voerbesending volgens bogenoemde vereistes sertifiseer en die vragmotors ook seël.

Wanneer bogenoemde vereistes vir die behandeling van die voer in ag geneem word, kan die opsie van beroking moontlik die haalbaarste wees as dit onder ’n seil op die vragmotor in die teenwoordigheid van ’n staatsveearts gedoen word.

Produsente wat hierdie opsie oorweeg, moet die staatsveearts kontak om uit te vind of dit aanvaarbaar sal wees.

Alternatiewelik kan enige van die voermaatskappye gekontak word om hulle fasiliteite te gebruik teen ’n redelike tarief.

Vir enige navrae, kontak Rina Hough by die NLU-kantoor by 061 237 838 of rina@nau.com.na. republikein@republikein.com.na

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT