Zambezi se seekoeie hét water

Ellanie Smit -Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme is besig om die nodige stappe te doen om seekoeie in die Zambezirivier te red waar waterstelsels besig is om weens die voortslepende droogte op te droog.

Die ministerie se woordvoerder, Romeo Muyunda, het egter die publiek die versekering gegee daar is geen rede tot kommer nie. Volgens hom het die ministerie in 2019 ’n boorgat geboor en ’n kragopwekker aangekoop om water in die poel te pomp. Sedertdien het die pomp en kragopwekker elke keer tot die seekoeie se redding gekom wanneer daar ’n aanvraag vir water was.

“Ons het vroeër vanjaar met die wildlewe-owerheid in Botswana in verbinding getree om gesamentlik met betrekking tot die huidige situasie in te gryp,” het Muyunda gesê.

Volgens hom het Botswana toe ’n ekstra kragopwekker en brandstof verskaf om water te pomp. Tans is daar twee kragopwekkers wat water in die poel pomp. Om die situasie verder te verbeter, is ’n sonkragaangedrewe pompstelsel geïnstalleer wat gedurende die dag water pomp, met die kragopwekkers wat net deur die nag gebruik word.

“Met hierdie reëling is die idee om die seekoeie van voldoende water te voorsien om te oorleef tot die volgende vloedseisoen en nie noodwendig om die poel vol te maak nie.”

Muyunda sê daar was vanjaar weens die swak reënval nie enige invloei van water in die poel nie.

“Ons bly daartoe verbind om die oorlewing van die seekoeie te verseker. Ons sal voortgaan om die situasie te monitor en gepaste maatreëls in plek te stel soos die situasie dit vereis.”

Die vlak van die Zambezirivier by Katima Mulilo het vandeesweek op 1,39 meter gestaan.

republikein@republikein.com.na

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT