Die afgelope naweek se wildveiling by die Outjo Wildsfees het verwagtinge oortref met bastergemsbokverse wat vir N$120 000 per kop verkoop het, ’n swartwitpensbul vir N$140 000 en ’n lechwe-ram vir N$60 000.

“Vandag was ’n verskriklike goeie veiling, daar is bogemiddelde pryse vir bykans al die wild betaal. Ons is baie tevrede met die veiling,” het Dirk du Preez Saterdag aan AgriMonitor gesê. Hy is op die bestuur van Du Preez Wild, wat die gasheer vir die veiling was.

SUKSES

Paul Klein, Agra se algemene bestuurder van veilings, het gesê die wildveiling het hulle verwagtinge oortref – veral tydens ’n jaareinde waar die jagseisoen bykans geëindig het.

“’n Klomp diere het vir baie goeie pryse gegaan en die deelname aan die veiling was ook baie goed.

“Ek dink dit was ’n groot sukses. Boonop is Du Preez-wild ’n betroubare naam in die wildbedryf en ons is trots daarop om met hulle geassosieer te word,” het hy gesê.

Klein sonder die springbokke, die swartwitpensbulle, bastergemsbokke, koedoebulle en lechwe-ramme uit wat besonders goeie pryse behaal het.

“Die gehalte van die wild het beslis ook saamgeloop met die goeie pryse wat behaal is,” het hy bygevoeg.

Klein sê dit kom nadat daar vroeër vanjaar kommer was oor die droogte en swak weidingtoestande.

“Daar is tans ’n oplewing in die toerisme- en jagbedryf te bespeur. Dit kom ná die pandemie en die droogte van 2019.”

JAGBEDRYF

Afslaer Henno Badenhorst van Agra-stoetvee- en wilddienste het verduideik dat daar tydens die veiling op die jagbedryf se behoeftes gefokus is.

“Vir die veiling het ons na goeie genetika vir spesifiek die jagbedryf gekyk.”

Hy voeg by dat die Outjo-omgewing ’n droogtejaar beleef, wat daartoe gelei het dat sogenaamde vlaktewild of grasvreters, nie in groot getalle op die veiling aangebied was nie.

Badenhorst het verduidelik dit was ’n katalogusveiling, wat beteken kopers sien foto’s van die diere en koop dit – waarna die wild eers gevang word.

“Agra is tans die grootste veilinghuis in Namibië. ’n Gedeelte van die wildveiling is ook aanlyn aangebied, met selfs oorsese kopers wat op die wild gebie het. Dit is ook regstreeks in sosiale media asook op Agra se webtuiste uitgesaai,” het hy gesê.

Du Preez stem saam dat die wildbedryf tans die fokus is en baie goed doen.

“Wild is nou skaars. Die droogte en stropery eis sy tol en dit beïnvloed ook hoeveel diere in die mark beskikbaar is. Tans is daar nie ’n groot aanbod nie, dit beteken ’n hoë vraag daarna en dit is hoekom die pryse so hoog is,” het hy verduidelik.

“Ons voorsien dat wild in die nabye toekoms duur gaan bly. Daar is ook talle jongmense in die bedryf en die jagbedryf doen baie goed – veral met die wisselkoers wat nou gunstig is en dus goed betaal.”

LANG PAD

“Du Preez Wild het reeds 40 jaar se ervaring in die wildbedryf en dit is lekker om sake met hulle te doen,” het Badenhorst gesê.

Du Preez, wat op die bestuurspan van die familie-onderneming is, sê Du Preez Wild is reeds in 1983 begin.

“Ek is reeds die derde generasie wat hierby betrokke is. My ouma het dit begin,” het hy verduidelik. Hy sê hulle boer sowat 20 km suid van Otjiwarongo.

Du Preez vertel die Otjikondo Boerevereniging het die Outjo Wildsfees begin en dit rondom die wildveiling gebou.

“Du Preez Wild het eers in 2013 by die fees betrokke geraak – hierdie is dus ons tiende jaar. Dit is vir ons ’n groot voorreg, ons probeer elke jaar iets nuuts en ’n mens sien die sukses,” het hy gesê.

elvira@republikein.com.na