KORRUPSIE EN OMKOPERY
Jacobs is egter ook oortuig daarvan dat korrupsie en omkopery in ander afdelings van die owerhede in die pad staan van pogings om stropery te bekamp.
“In my ervaring kies sekere afdelings van die polisie en weermag soms om anderpad te kyk of is selfs direk by stropery betrokke. Ek is seker dat sommige NDF-soldate onwettig jag en selfs die weermag se toerusting daarvoor gebruik,” beweer Jacobs.
Die afgelope jare was daar talle mediaberigte oor die betrokkenheid van polisiebeamptes, soldate en natuurbewaarders by stroperysake.
Hy glo die enigste oplossing is ’n hoë teenwoordigheid van veldwagters op plase. Elke plaas waar die NWP aktief is, word deur minstens twee veldwagters bewaak en die aantal veldwagters neem toe in verhouding met die grootte van die plaas.
Die aanstelling van eksterne veldwagters is ’n duur proses vir boere.
Volgens Jacobs kos een NWP-veldwagter ’n boer meer as N$8 000 per maand.
Een beduidende probleem is die beskerming van die bedreigde swartrenoster. Om met hul beskerming te help, het NWP die Swartrenoster-beskermingsfonds gestig.
Hier kan buitelandse borge geld skenk om NWP te help om swartrenosters te beskerm. NWP bied ook ’n internasionale program aan vir vrywilligers wat as veldwagters opgelei wil word.
OPLEIDING
Volgens Vermaak ontvang al NWP se veldwagters opleiding in die hantering van wapens, taktiese bewegings, navigasie, spoorsny, wette en militêre dissipline.
Voordat NWP-werknemers as volwaardige veldwagters beskou word, ondergaan hulle ’n opleidingsfase van een jaar, wat met ’n twee weke lange intensiewe opleidingskursus begin.
Voor kandidate vir die opleiding kwalifiseer, ondergaan hulle ’n uitgebreide agtergrondondersoek en moet ’n polisieklaringsertifikaat indien. Hulle moet ook fiks wees, maar daar is ook die menslike faktor van vertroue.
Tydens die twee weke lange intensiewe oefenprogram, stuur Jacobs die kandidate om kilometers in warm middaghitte te hardloop en word hulle verder uitgedaag met verskeie oefeninge.
Tussen strawwe oefeninge, motiveer Jacobs ook sy kandidate.
“Die uniform is swaar, want om iemand te beskerm is ’n groot verantwoordelikheid wat swaar op ons skouers rus.
“Wanneer ons as veldwagters op ’n plaas werk, word dit ons plaas. Omdat ons dit beskerm, is ons verantwoordelik vir elke lewende wese op daardie grond.”
Benewens opleiding in terme van wapenhantering, noodhulp en spoorsny, is operasionele sekuriteit ’n belangrike deel van die opleiding.
Die voornemende veldwagters moet diskresie uitoefen om enige inligting oor renosters op die plase weg van die oë en ore van die publiek te hou.
Patrollieplanne, liggings van waarnemingspunte, die name van informante, die aantal en ligging van renosters, die aantal veldwagters, die grootte en kaarte van die plaas, radio-roepseine – dit is alles kritieke inligting wat veldwagters ten alle koste geheim moet hou om die renosters te beskerm.
Dit is glo nie ongewoon dat plaaswerkers of selfs veldwagters as informante vir stropers optree in ruil vir omkoopgeld – en inligting oor die renosters op hul eie plaas verkoop nie.
Drie maande ná ’n voornemende veldwagter met sy werk begin het, word hy dus aan ’n poligraaftoets onderwerp. Die veldwagter ontvang sy opleidingsertifikaat eers een jaar nadat hy met die opleiding begin het. › Katharina Moser