Ondanks vordering in pogings tot die bekamping van handel in spesies soos olifante, gaan onwettige wildhandel onverpoosd wêreldwyd voort.

Dit is volgens vanjaar se Wêreldwildmisdaadverslag wat deur die Verenigde Nasies se kantoor vir Dwelms en Misdaad (UNODC) uitgereik is.

Die verslag beklemtoon dat onwettige wildhandel nie genoeg afgeneem het oor die afgelope twee dekades nie, wat gelei het tot die beroep dat bestaande wette, insluitend maatreëls om korrupsie te bekamp, ​​op ’n internasionale skaal sterker geïmplementeer moet word.

Daar was egter aansienlike sukses teen die onwettige handel van sekere spesies, terwyl oorgrens-samewerking en kriminalisering van wildmisdaad ook verbeter het.

“Nietemin bly die omvang van hierdie onwettige handel geweldig groot, wat duisende spesies diere en plante insluit en oor meer as 160 lande en gebiede heen strek. Baie meer werk is dringend nodig om die uitdagings aan te pak,” lui die verslag.

KORRUPSIE

Die verslag wys ook op die feit dat korrupsie bestaande regulasies rondom wildmisdaad verbygesteek het, terwyl tegnologie dit makliker gemaak het vir misdadigers om wêreldmarkte te bereik.

Tussen 2015 en 2021 is daar beslag gelê op sowat 13 miljoen items (sowat 16 000 ton) wat onwettige handel aan die lig gebring het. Dit het ongeveer 4 000 plant- en dierespesies se verspreiding na 162 lande en gebiede ingesluit. Van die spesies wat die meeste verhandel is, was korale (16%), krokodille (9%) en olifante (6%).

KOSTE

Die verslag het verder aangedui dat min beramings nog gepubliseer is met betrekking tot die finansiële koste van pogings teen die bekamping van wildmisdaad, maar dit kan glo enorm wees, veral in die konteks van ontwikkelende ekonomieë.

’n Nasionale studie in Namibië het in 2021 beraam dat die uitgawes wat nodig is om onwettige wildhandel in die land te stuit, sowat N$250 miljoen per jaar beloop.

STUDIES

Dit het bygevoeg dat armoede sommige mense noop tot stropery, maar stropers nie noodwendig altyd weens desperaatheid optree nie.

“Twee navorsingstudies in Suider-Afrika wat onderhoude met wildmisdaadoortreders in Namibië en Suid-Afrika behels het, het soortgelyke bevindings getoon.”

In die Namibiese studie, is onderhoude met 45 manlike oortreders gevoer wat toegesluit is in verband met onwettige wildhandel. Die meeste was in ’n mindere mate by die stropery betrokke of was handelaars binne die voorsieningsketting met beperkte kennis van die mark aan wie hulle verskaf het.

Volgens die verslag was hulle óf ten volle óf gedeeltelik werksaam – meestal in die landbousektor – maar het hulle af en toe en op ‘n opportunistiese basis met stropery of onwettige wildhandel besig gehou.

Die Suid-Afrikaanse studie het onderhoude met 73 oortreders gevoer wat toegesluit is in verband met wildmisdaad – insluitend stropery en onwettige handel in perlemoen, broodbome en renosterhoring.

Die meeste was net tot ’n mindere mate by stropery betrokke deur vervoer of verwerking en baie was van gemarginaliseerde gemeenskappe wat hetsy werkloos of informeel in diens geneem is, met min toegang tot alternatiewe ekonomiese geleenthede.
republikein@republikein.com.na

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT