Wêreld se oudste termiethope in SA gevind

Lugfoto's van die heuweltjies in Namakwalandse wat met oortrek is. Die blomme groei by voorkeur op die heuwels omdat hulle ryker aan voedingstowwe is as die omliggende grond.

In wat as ’n verstommende deurbraak beskryf word, het wetenskaplikes die wêreld se oudste, bewoonde termiethope langs die Buffelsrivier in Namakwaland ontdek.

Die termiethope, wat ’n verbysterende 34 000 jaar oud is, herskryf ons begrip van prehistoriese lewe, klimaat en koolstofberging.

Die termiethope word deur die suidelike stropertermiet, Microhodotermes viator, bewoon, verduidelik die hoofskrywer van die navorsingstudie, dr. Michele Francis, ’n buitengewone senior dosent by die departement grondkunde in die fakulteit agriwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US). Die universiteit se departemente van grondkunde en aardkunde het Dinsdag ’n verklaring uitgereik.

“Onlangse radiokoolstofdatering het aan die lig gebring dat hierdie termiethope baie ouer is as wat voorheen bekend was.

“Die hope word steeds deur termiete bewoon, en die radiokoolstofdatering van die organiese koolstof binne hierdie hope toon dat sommige so ver as 34 000 jaar terugdateer. Dit is ouer as die ikoniese grotskilderye in Europa en selfs ouer as die laaste gletser-maksimum, toe groot ysplate ’n groot deel van die Noordelike Halfrond bedek het.

‘OUDSTE AKTIEWE TERMIETHOPE’

“Dit wissel van 13 000 tot 19 000 jaar, terwyl die karbonaat of koolsuursout tot 34 000 jaar terugdateer. Dit maak die Buffelsrivierheuwels die oudste aktiewe termiethope wat tot dusver met organiese en anorganiese koolstof gedateer is. Die vorige oudste bewoonde hope van verskillende spesies uit Brasilië is 4 000 jaar oud.

“Om dit in perspektief te stel: Hierdie termiethope was al antiek toe mammoete nog op die aarde gewandel het. Gedurende die laaste gletser-maksimum sowat 20 000 jaar gelede, het massiewe ysplate dele van Noord-Amerika, Europa en Asië bedek. Hierdie hope was toe reeds duisende jare oud en verskaf ’n lewende argief van omgewingstoestande wat ons wêreld gevorm het,” sê Francis.

Dr Andrew Watson, Marli Kleyn (MSc), Dr Jani van Gend en Dr Michele Francis, hoofskrywer van die navorsingstudie en buitengewone senior dosent in die Departement Grondkunde aan die US.

’N BLIK OP PREHISTORIESE KLIMAAT

Hierdie antieke termiethope is meer as net ’n historiese seldsaamheid; hulle dien as waardevolle rekords van prehistoriese klimaatstoestande, sê Francis.

“Die termiethope dui daarop dat die streek gedurende hulle vorming aansienlik meer reënval as vandag gekry het. Hierdie natter klimaat het minerale soos kalsiet en gips toegelaat om op te los en na die grondwater af te syfer.

“Hierdie proses is van uiterste belang om natuurlike koolstofisolasieprosesse te verstaan. Wat interessant is, is dat Namakwaland steeds sporadies intense reënval ondervind, soos verlede winter die geval was en wat die proses weer sal aktiveer.”

TWEE MEGANISMES

Dit is nie net die oudste termiethope op aarde nie, maar bied ook twee meganismes om CO² te isoleer, voeg Francis by.

Eerstens spuit termiete se oesaktiwiteite jonger organiese materiaal diep in hul neste in, wat tot voortdurende vernuwing van belangrike grondkoolstofreservoirs diep in die nes lei, waar dit langer bewaar word as wat die geval sou wees indien dit nog op die oppervlak was.

Tweedens bied hierdie kalkagtige termiethope ’n manier om CO² te verwyder wanneer die grondmineraalkalsiet oplos. Dit is ’n langtermyn-koolstofopberging wat maatskappye in verbeterde verwerings- of oseaanalkaliniteitsverbeteringsprojekte wil herhaal en is belangrik vir die berekening van ’n land se koolstofbegroting soos uiteengesit in die Parys-ooreenkoms, en waarvoor daar verantwoording gedoen word gedurende grondgebruikverandering.

Lugfoto's van die heuweltjies in Namakwalandse wat met blomme oortrek is. Die blomme groei by voorkeur op die heuwels omdat hulle ryker aan voedingstowwe is as die omliggende grond.

‘NATUURWONDER’

“Die ontdekking van hierdie termiethope is soortgelyk daaraan om ’n antieke manuskrip te lees wat alles verander wat ons gedink het ons van die geskiedenis weet. Hulle ouderdom en die insigte wat hulle in antieke ekostelsels bied, maak hulle ’n kandidaat vir wêreldwye erkenning as ’n natuurwonder,” sê Francis.

“Deur hierdie hope te bestudeer, kan wetenskaplikes ’n beter begrip kry van hoe om klimaatsverandering te bekamp deur die natuur se eie prosesse vir koolstofisolasie te gebruik. Hulle beklemtoon ook die belangrikheid daarvan om ons natuurlike wêreld te bewaar, aangesien hierdie klein ingenieurs ons omgewing al tienduisende jare vorm.

“Die ontdekking van die wêreld se oudste termiethope in Namakwaland is ’n bewys van die ongelooflike geskiedenis wat onder ons voete versteek is. Hierdie termiethope werp nie net lig op die verlede nie, maar bied ook belangrike leidrade vir ons toekoms. Terwyl ons voortgaan om die geheime van hierdie antieke strukture bloot te lê, herinner dit ons aan die delikate wisselwerking tussen klimaat, omgewing en lewe op aarde,” sluit Francis af.

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT