Volhoubare trofeejag op die tafel

Ellanie Smit – Daar is groot geleenthede vir die trofeejagsektor in Namibië mits dit veranderinge soos die ouderdomsverwante trofee (ART)-meetstelsel tegemoetkom.

Hierdie stelsel het ten doel om aansporings te skep om ou diere verby hul bloeityd (teelouderdom) te jag en om die jag van diere wat nog nie volwassenheid bereik het nie, heeltemal te ontmoedig.

Dit volgens opmerkings wat die president van die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha), Axel Cramer, tydens ’n onlangse voorlegging by ’n inligtingsdag wat deur Wildlife Ranching Namibia aangebied is.

VOLHOUBAARHEID

Cramer het gesê dit is meer sinvol om ouderdomsklasse van diere te identifiseer as om volgens hul werklike ouderdom in jare te werk.

“Hierdie ouderdomsklasse is onvolwasse, bloeityd (teelouderdom) en verby bloeityd (teelouderdom).”

Hy het verduidelik die uiterlike groei van horings en slagtande kom grootliks tot ’n einde sodra die bloeityd-stadium bereik word.

“Nou het die horings en slagtande ontwikkel tot die wapens wat hulle ontwerp is om te wees.”

Hy het gesê die ART-stelsel sal dus diere teiken wat verby hul bloeityd is om die genetiese volhoubaarheid van trofeejag te verseker.

“Dit is om te wys dat jag ’n manier van bewaring kan wees, om ’n hulpmiddel binne ’n bestuursplan te verskaf vir niebenadelende of selfs verbeteringsbevindinge vir belangrike owerhede, en om die trofeë te verbeter deur middel van veroudering van diere.”

GROEIENDE SEKTOR

Volgens Cramer bring trofeejag sowat 3% van toeriste na Namibië, maar sorg vir 20% van toerisme-inkomste.

Hy het oor die ekonomiese situasie van die land uitgebrei en gesê Namibië het ’n klein, oop ekonomie wat sterk afhanklik is van handelssektore soos landbou, mynbou, toerisme en visvang.

Hy het gesê ondanks die resessie, die brose toestand van die ekonomie en die erge droogte in 2019, het toerismegetalle en -verdienste bly styg.

Cramer het daarop gewys dat toerisme ’n belangrike sektor vir Namibië is, met 110 000 mense wat na raming hul hoofinkomste uit toerisme verdien.

Hy het opgemerk dat die wildsektor ekonomies meer divers is as die veesektor, wat waarde toevoeg bo slegs vleisproduksie.

“Diensgebaseerde bedrywe het ’n baie groter potensiaal vir groei en werkskepping in vergelyking met suiwer landbouproduksie.”

VOORDELE

Cramer het verder gesê gemengde bees- en wildplase het dubbel die aantal mense in diens in vergelyking met slegs beesplase.

Hy het gesê Namibië se mededingende voordeel is onder meer dat 48% van Namibiese grond tans onder een of ander vorm van bewaringsbestuur is, wat die grootste grondoppervlak ter wêreld is.

Hy het bygevoeg die volhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne is in die Grondwet vasgelê.

“Die jag- en toerisme-ervaring kan nie deur tegnologie vervang word nie.”

Die land het ook goeie infrastruktuur, ’n veilige toerisme-ervaring, en mense praat ’n verskeidenheid tale, het Cramer uitgelig.

republikein@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT