'n Koedoebul op kamera vasgevang. Napha sê die meerderheid gebiede wat vir jagdoeleindes benut word, sal nooit geskik wees vir foto-toerisme nie. FOTO PEXELS.COM

Debat op waninligting gegrond – Napha sê waninligting deur diereregte-aktiviste dryf die parlementêre debatte in die VK oor dié verbod. Elvira Hattingh

’n Verbod op die invoer van jagtrofeë verminder die motivering vir regerings, grondeienaars en gemeenskappe om gevaarlike diere te verdra, grond as ’n habitat vir wild te behou eerder as om dit vir landboudoeleindes te benut of om in enige teenstropingsaktiwiteite te belê.

Só reageer die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha) in sy jongste nuusbrief van 9 Junie oor die Verenigde Koninkryk (VK) se plan om die invoer van jagtrofeë van sowat 6 000 spesies in sy wetsontwerp op beginselregulasies vir handel in wild te verbied.

Napha sê waninligting deur diereregte-aktiviste dryf die parlementêre debatte in die VK oor dié verbod. Daarbenewens is tot 70% van parlementariërs se stellings vals of misleidend.

In die debatte is kundiges se kennis oor bewaring geïgnoreer – selfs dit wat deur die VK-regering se eie wetenskaplike raadgewende liggaam verskaf is, meen Napha.

Napha verduidelik die omstrede wetsontwerp op jagtrofeë is om verskeie redes problematies. Die vernaamste rede is dat dit klaarblyklik hoop om bewaring te bevorder, maar dit in werklikheid eerder die suksesse van bewaring in Afrikalande en elders sal ondermyn.

“Trofeejag is bewys om ’n sterk bydrae tot bewaring te maak onder verskeie dierespesies wat gejag word, insluitende dié wat deur bedreiging in die gesig gestaar word. Dit omdat jag ander, veel groter bedreigings uit die weg ruim, soos ’n verlies aan habitat vir wild asook stropery,” het Napha gesê.

Napha verduidelik die groter meerderheid van die 6 000 spesies wat in die wetsontwerp vervat word, is nie onderwerp aan trofeejag nie – talle spesies op die lys sluit in koraal en jellievisse. Die spesies is gelys in die Europese Raadsregulasie en is die basis waarvan die wetsontwerp ontwikkel is.

“Volgens die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) se rooilys vir bedreigde spesies, is trofeejag nie die grootste bedreiging vir enige dierespesie nie,” het Napha bygevoeg. Die IUCN is ’n wêreldwye erkende owerheid in die bewaringstatus van die wêreld se wildspesies.

“Oor die afgelope 22 jaar het die VK die trofeë van slegs 73 jagspesies ingevoer, soos vervat in die Konvensie op Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites).

“Trofeejag is nie ’n groot bedreiging vir enige van hierdie spesies nie,” is verduidelik.

“Grond waar daar gejag word, bied nie net ’n habitat vir die spesies wat gejag word nie, maar is ook ’n tuiste vir ontelbare ander diere en plante wat nié gejag word nie.

“Inteendeel, in Afrika is daar groter gebiede wat aan trofeejag – as ’n bewaringsmaatreël – afgestaan word, as aan nasionale parke,” het Napha beklemtoon.

Europese jagters dra by tot meer as die helfte van die totale inkomste uit jagbedrywighede in Namibië. FOTO PEXELS.COM

GEEN ALTERNATIEF

Daar is tans geen lewensvatbare alternatief in gebiede waar wild vir trofeejag beskikbaar gestel word nie.

Foto-toerisme werk net in gebiede wat oor genoeg natuurskoon beskik en waar goeie vervoer en infrastruktuur help dat ’n groot aantal besoekers dit kan bereik.

“Die meerderheid gebiede wat vir jagdoeleindes benut word, sal nooit geskik wees vir foto-toerisme nie. Daarbenewens kan jagaktiwiteite in verskeie plekke sáám met foto-toerisme plaasvind – daar is reeds talle plekke waar dit so gedoen word en as ’n bykomende bron van inkomste dien,” sê Napha.

Grond waar daar gejag word, bied nie net ‘n habitat vir die spesies wat gejag word nie, maar is ook ‘n tuiste vir ontelbare ander diere en plante wat nié gejag word nie, sê Napha. FOTO PEXELS.COM

EUROPA

Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, het verlede jaar gesê Europese jagters dra by tot meer as die helfte van die totale inkomste uit jagbedrywighede in Namibië, maar buiten vir die VK, is lande soos België en Finland ook van plan om ’n verbod op trofee-invoere te plaas.

In 2019 het altesaam 5 001 trofeejagters Namibië besoek. FOTO PEXELS.COM

Dit kom terwyl Frankryk en Nederland reeds sekere beperkings in verband hiermee ingestel het.

Republikein het verlede jaar berig in 2019 het altesaam 5 001 trofeejagters Namibië besoek.

Duitse toeriste of jagters was die meeste met ’n totaal van 1 792 (36%), gevolg deur die Verenigde State van Amerika (VSA) met 934 (19%) en Oostenryk met 378 (7%).

Die aantal trofeejagters wat Namibië in 2020 besoek het, het tot 871 gedaal weens Covid-19.

Dié getal het in 2021 weer toegeneem tot 2 587. Duitse jagters was weer eens die meeste met 824 (32%), gevolg deur die VSA met 775 (30%) en Hongarye derde met 146 (6%).

Volgens die minister kom meer as 90% van die land se wild op private en kommunale grond voor en die land het nou meer wild as op enige tydstip in die afgelope 100 jaar. – elvira@republikein.com.na

‘n Verbod op die invoer van jagtrofee verminder motivering vir regerings, grondeienaars en gemeenskappe om grond as ‘n habitat vir wild te behou eerder as om dit vir landboudoeleindes te benut of om in enige teenstropingsaktiwiteite te belê. FOTO PEXELS.COM

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT