VK Halt Trofeeverbod

Sommige VK-leiers het gevra vir ’n wysiging van die wetsontwerp om toe te laat dat ’n klein aantal trofeë steeds ingevoer word, sou dit bewys kon word dat dit bewaringsprojekte bevorder. FOTO VERSKAF

Die omstrede wetsontwerp om die invoer van jagtrofeë van sowat 6 000 wildspesies te verbied, is deur die Verenigde Koninkryk (VK) se hoërhuis tot stilstand geroep.

Dit volg nadat Afrikalande soos Namibië, Botswana, Suid-Afrika, Zambië en Zimbabwe volgehou het dat dié wetsontwerp nie op wetenskaplike data of die mening van bewaringskenners gegrond is nie.

Volgens dié lande is die omstrede wetsontwerp eerder gegrond op waninligting deur diereregte-aktiviste wat parlementêre debatte in die VK oor dié verbod dryf.

Daarbenewens was tot 70% van parlementariërs se stellings vals of misleidend, het die betrokke Afrikalande gesê.

WYSIGINGS AFGEKEUR

Dit volg nadat sommige VK-leiers gevra het vir die wetsontwerp om gewysig te word om toe te laat dat ’n klein aantal trofeë steeds ingevoer kon word, sou bewyse gelewer word dat dit bewaringsprojekte bevorder.

Verskeie regeringsraadgewers asook tot 150 bewaringskenners het die wysiging ondersteun.

Die VK-ministers wou egter nie hierop toegee nie en die wetsontwerp is toe tot ’n halt geroep. Dit beteken die wetsontwerp kan slegs nog deurgevoer word as die regering bykomende parlementêre tyd daarvoor toestaan – iets wat die VK se departement vir die omgewing, voedsel en landelike sake (Defra) tot dusver nie wou doen nie.

Die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha) het onlangs bygevoeg dat die VK kundiges se kennis oor bewaring ignoreer – selfs dit wat deur die Britse regering se eie wetenskaplike raadgewende liggaam verskaf is.

HOëRHUIS DRAAI BRIEK AAN

Die hoërhuis of “house of lords” wat nou ’n stokkie voor die wetsontwerp gesteek het, is die tweede huis van die Britse parlement.

Dié huis speel ’n deurslaggewende rol om wetsontwerpe te bestudeer en om die regering se optrede en openbare beleide te ondersoek en te bevraagteken.

Die VK se laerhuis of sogenaamde “house of commons” het die wetsontwerp in Maart sonder enige teenstand aanvaar. Die laerhuis is ’n demokraties verkose huis van die VK se parlement wat verantwoordelik is om wette te skep en die regering se bedrywighede te monitor.

In ’n gesamentlike mediaverklaring deur Botswana, Namibië, Suid-Afrika, Zambië en Zimbabwe het die lande aangedui hulle is dankbaar vir vennote wat goed nagevorsde argumente voorgelê het, wat gebaseer is op wetenskaplike bewyse en wat in ooreenstemming is met die streek se siening.

Die Afrikalande se hoë kommissarisse het beklemtoon dat volhoubare jagbedrywighede gesinne voed, kinders deur die skool sit en teenstropingseenhede befonds, terwyl dit eindelik oor die lang termyn die oorlewing van habitatte en die wilde diere verseker.

elvira@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT