“As dit by otters kom, wil ons egter op hul beendere fokus,” het hy gesê.
“Hiervoor het ons skedels en lang bene van ledemate nodig. Die bene van beide ou en nuwe karkasse is welkom. As die skedel plus een lang been per dier saam bewaar kan word, sal dit goed wees – andersins enige iets anders wat beskikbaar is,” sê Brown.
Vir elke otterkarkas wat versamel word, moet ’n vorm ingevul word. Die monsters sal by die Universiteit van Namibië (Unam) se skool vir veeartsenydienste verwerk word, in samewerking met ’n gespesialiseerde universiteitslaboratorium in Japan.
SUIDER-AFRIKA
Die werkgroep hoop om eindelik werkbare opsies te identifiseer oor hoe Namibië die kwessie van loodvergiftiging kan takel en hoe daar moontlik op streekvlak met buurlande saamgewerk kan word.
“Die meeste aasvoëlsoorte dek groot gebiede as hulle vir kos soek. Individuele aasvoëls wat met GPS-toestelle in Namibië toegerus is, reis tussen vyf ander lande, naamlik Angola, Botswana, Zambië, Zimbabwe en Suid-Afrika. Aasvoëlbevolkings is dus nie ’n nasionale bate nie, maar ’n streekbate en dit maak loodvergiftiging ook ’n kwessie wat die groter streek sal moet aanpak,” word op die werkgroep se webwerf verduidelik.
Brown sê al hoe meer vervaardigers van ammunisie – ook in Suider-Afrika – bied nou ’n wye reeks loodvrye produkte.
Hy sê dit is dus veral jagters, boere, uitskietspanne om oortollige wild uit te dun, klubs wat roofdiere beheer asook ander spesialiste in die jagbedryf wat hiervan bewus gemaak moet word.
“Jag kom internasionaal al hoe meer onder druk. Die sektor moet dus progressief en professioneel optree en die hoogste omgewingstandaarde handhaaf.
Brown sê verskeie lande, waaronder Amerika, het om hierdie rede lood in ammunisie uitfaseer.
Vir verdere navrae het Brown belangstellendes na die loodwerkgroep se webwerf verwys (https://n-c-e.org/namibian-wildlife-lead-poisoning-working-group).