“Die mensdom wil mooi goed hê – groot voertuie, industrieë en rykdom – en nou begin ons die prys betaal. Ek sê altyd dis reg as jy goed wil doen en hê, maar onthou – mense gaan iewers moet betaal. Niks is verniet nie en die vraag wat ons onsself moet vra, is of dié prys aanvaarbaar is of nie. Dikwels het dinge ook ’n vertraagde reaksie. Ons is al so lank besig om die planeet te vernietig en ons begin nou eers om die prys daarvoor te betaal,” het dr. Clinton Hay, ’n senior lektor in die departement biologiese wetenskappe aan die Universiteit van Namibië (Unam), gesê.

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme; die ministereie van visserye en mariene hulpbronne; Unam en die Noorse Instituut vir Natuurnavorsing (Nina) is tans besig om die interaksie tussen mense, visse en krokodille langs- en in die Kavangorivier te bestudeer om uit te vind of die afname in die rivier se visgetalle bydra tot vermeerderde krokodilaanvalle in die omgewing.

“Dit is ’n projek wat nog aan die gang is en ons het nog geen konkrete gevolgtrekkings nie, maar ons sien ’n paar tendense. Die doel van die navorsing is om te sien wat ons kan doen. Om al die krokodille te skiet is nie ’n opsie nie, want dit sal later probleme gee. Wat dié probleme sal wees weet ek nie, maar daar sal ’n prys wees wat mense moet betaal.

“Wat ons wel moet doen, is om die groei van die visbevolking in die rivier weer op koers te kry sodat die krokodille én mense genoeg het om te eet en alles terug in balans is.”

Volgens Hay blyk dit asof of daar ’n styging in krokodilaanvalle op mense is.

“Ons sien beslis ’n afname in die getalle van groter visspesies wat deur die mense geteiken word. Twee derdes van die spesies in die rivier word nie baie groot nie. Hulle word hoofsaaklik deur die vroue en kinders gevang vir kos by die huis. Die mans vang die groot spesies, want dit is waar die geld is, en hulle getalle is besig om af te neem.”

Volgens Hay bestaan krokodille – wat tussen twee en drie meter lank is – se dieet 98% uit vis. Die groter krokodille vang ook bokke en ander diere op die oewer en dus is hulle dieet effens meer gediversifiseer. ’n Afname in visgetalle beïnvloed die mediumgrootte krokodille wat nou na ander voedselbronne moet soek, want hulle is te klein om bokke te vang.

Hay en sy studente is al vir meer as 30 jaar besig met navorsing in die Kavangorivier. Baie van dié navorsing is in die Mahango Nasionale Park gedoen en hulle het opgemerk dat visstropery in die park aan die toeneem is.

“Ons het opgemerk dat die krokodille besig is om uit die park te beweeg op soek na kos. Wanneer jy die vis stroop, vat jy hulle kos weg en hulle sal – nes mense wat nie meer kos het nie – ’n plan maak om te oorleef.”

Volgens hom is dit weer eens ’n teken van die sensitiwiteit die ekosisteem – nie net in die Kavango nie, maar oor die hele planeet.

“Krokodille en haaie is die toppredatore en hulle speel ’n noodsaaklike rol in die ekosisteem. As jy iets kleins heel onder vernietig, sal dit dalk nie so ’n groot probleem wees nie, maar as jy iets bo vernietig, sal iets sy plek moet vat en dan word die natuur se balans omver gegooi. Dit is die prinsiep van die planet – die oomblik wat ons die ekosisteem beskadig, word dit ongebalanseerd en mense betaal die prys daarvoor. Dikwels is dit ongelukkig nie die persoon wat die skade aanrig wat die prys betaal nie, maar eers latere generasies.”

OPLEIDING

Die navorsing wat Unam oor die afgelope 30 jaar gedoen het, word nou gevat en in opvoedkundige materiaal vir skoolkinders omskep.

“Volwassenes luister baiekeer nie en wil dikwels nie verander nie. So, ons moet by die kinders begin en hulle inlig. Hulle moet verstaan watter rol krokodille in die natuur speel. Wat sy plek is en wat hulle in daardie verband moet doen. Ja, hulle is gevaarlik, maar voertuie is net so gevaarlik. Ons moet kinders leer om waaksaam te wees en krokodille te respekteer.”

Volgens Hay word mense minder waaksaam hulle lank in- en langs die water is. Hulle vergeet om op hulle hoede te wees net omdat hulle nie die krokodil sien nie.

“Mense vergeet dat krokodille langer as ’n uur onder water kan bly. Hulle is baie geduldig en hulle lê en wag. Deur ons navorsing sien ons aan die gedrag van krokodille dat hulle leer. Hulle is al baie langer op die aarde as mense. Hulle is geduldig en baie goed aangepas. Ons kyk na die gedrag van visse omdat hulle so ’n belanglike hulpbron is. Ons kyk na die gedrag van krokodille en mense en dan kyk ons hoe ons die drie kan vervleg en die krokodille kan red en seker kan maak nie een enkele persoon word deur hulle gevang nie.”

Die span het al 20 krokodille met senders toegerus. Dié senders is op die krokodille se rûe vasgemaak en het elke uur ’n sein na ’n satelliet gestuur wat aangedui het waar hulle hulself bevind.

“Ons het nou weer krokodille met senders toegerus en die nuwes stuur elke drie ure ’n sein en sal dus langer hou. Hulle het ook sonpanele wat hulle batterye opwek en hulle kan dus dalk nog langer hou.”

SENDERS

“Op 14 November 2021 is ’n vrou wat water uit die rivier by Bagani gaan haal het, aangeval deur ’n krokodil met ’n sender wat deel van hierdie studie is. Die vrou het gelukkig oorleef. Die krokodil is op 24 Mei 2021 in die Mahango Nasionale Park gevang en met die sender toegerus. Dit was ’n krokodilmannetjie van 2,9 meter lank,” sê Hay.

Deur die sender kon die navorsers sien dat die krokodil oor meer as 30 kilometer van die rivier beweeg het. Hy het van die Botswana-grens tot in Bagani beweeg. Hy het uit Mahango beweeg – wat aan die afname in vis toeskryf kan word. Dit kan wees dat hy die beskermende gebied verlaat het op soek na kos. Hy was nie groot vir ’n krokodil nie en kon dalk nie ’n spesifieke gebied verdedig nie. “Dit is nie altyd die grootste krokodil in ’n gebied wat verantwoordelik is vir die aanvalle op mense nie.

“Net voor die aanval het ons agtergekom dat die spesifieke krokodil aktief gebiede rondom voetpaadjies wat deur mense en diere besoek word, beset het. Hy het geleer hoe mense beweeg en presies geweet waar en wanneer die mense water gaan haal. Toe ons die bewegingsdata ontleed het, het ons agtergekom dat die krokodil moontlik ’n aantal mense of diere bekruip het voordat hy spesifiekes geteiken het. Die krokodil was nie bang vir menslike aktiwiteite nie. Hy het gebiede beset naby plekke waar mense op ’n daaglikse basis water gaan haal het. Mense het gewoond geraak aan die krokodil in die omgewing, wat moontlik daartoe gelei het dat hulle minder versigtig geword het vir die bedreiging van krokodille,” verduidelik Hay.

Die studie het getoon die gebruik van onwettige nette en vernietigende visserybedrywighede in die Bagani-gebied het ’n ernstige afname in visgetalle tot gevolg gehad. Vissery-opnames het aan die lig gebring dat die gebied waar die aanval plaasgevind het, ’n baie lae biodiversiteit van vis het, wat die inwonende krokodille se hoofbron van voedsel is.

“Jy kon sien die krokodil het die mense dopgehou. Dit is hoekom ons mense moet toerus met kennis om ten alle tye waaksaam te wees. Jy kan water gaan skep, maar sit die emmer dan op die rivierbanke neer en was jou wasgoed. Moenie in die rivier staan nie. Moenie elke dag dieselfde voetpad op dieselfde tyd gebruik nie. Sulke goed kan ons vir mense sê, maar ons het hulle samewerking nodig om lewensverlies te voorkom.

“Krokodille volg ’n sekere gedragspatroon en mense het gewoond geraak daaraan. Nou, met die minder kos, kan hulle gedrag verander. Die plan is om die ekosisteem terug op koers te kry sodat krokodille se gedrag na normaal kan terugkeer. Natuurlik is hulle opportunisties en as jy by een verbyswem sal hy jou probeer vang, maar as daar genoeg vis in die rivier is sal hulle minder geneig wees om mense aan te val.”

Hay het afgesluit deur te sê hy nie met sekerheid sê dat minder vis tot verhoogde krokodilaanvalle op mense lei nie, maar dit is ’n logiese afleiding.

“Dit is baie makliker vir ’n krokodil wat nie so groot is nie om ‘n mens of hond te vang as ’n bok of ander dier.”

tanja@republikein.com.na