‘Vee-, wilddiefstal-probleem oorweldigend’

Markus Trede van die plaas Lindholm in die Omaruru-omgewing het Dinsdag ’n eland op sy plaas gevind wat wreed in ’n draadstrik gevrek het. FOTO VERSKAF

Boere in die Omaruru-omgewing kla opnuut dat die probleem met veediefstal en stropery oorweldigend is – soveel so dat hulle vrees plase sal eindelik verlate agtergelaat word.

“Niks buiten houtskoolbedrywe sal oor wees nie, wat sal lei tot talle werksverliese in die landbou- en toerismebedryf.”

So gesels Markus Trede van die plaas Lindholm in die Omaruru-omgewing wat verlede Dinsdag ’n eland op sy plaas gevind het wat wreed in ’n draadstrik gevrek het. Ses beeste is ook oor die afgelope twee maande op sy plaas gestroop.

“Die eland was ’n wilde dier wat natuurlik voorgekom het – die kamp is nie met wildwerende heining toegespan nie. Aasvoëls het reeds ’n tyd gelede vir ons ‘gewys’ dat iets gevrek het, maar ons het eers vandag op die eland afgekom,” het Trede gesê.

“Buiten vir die slag van beeste, kom hulle ook vir die wild. Jy kan bykans glad nie meer ’n gemsbok by ons of omliggende plase vind nie. Hierdie tendens verwoes Namibië se grootste bate – ons wild en gevolglik die toerismebedryf.

“Die ergste is dat hulle nie eens die vleis kom haal nie,” het hy gesê.

TALLE POGINGS

“Ons doen reeds alles om die kwessie te probeer bestuur. Ons gebruik veewagters, vlieg gereeld met hommeltuie, huur veiligheidswagte, doen gereelde patrollies, benut buurtwagte en het goeie samewerking met die polisie, maar die probleem is oorweldigend vir talle boere,” het Trede gesê.

Trede sê hy boer op die Omatjette-pad – 25km noordwes van Omaruru.

In nog ’n geval is daar in ’n woonstel op Bethanie ingebreek en ’n sekuriteitsmaatskappy se uniforms is gesteel. Die maatskappy se eienaar op Keetmanshoop het gewaarsku dat mense versigtig moet wees vir gewapende rooftogte, waar rowers dalk die uniforms van Loubser Security kan dra. – elvira@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT