Mens-dier-konflik

Francoise Steynberg -‘n Omvattende ontleding deur die Lewendehaweprodusenteorganisasie (LPO) toon verbysterende verliese van byna N$14,4 miljoen wat deur roofdiere, diefstal, droogte-verwante siektes en rampe asook probleemdiere in 2023 veroorsaak is.

Hierdie astronomiese bedrag spruit uit slegs 1 248 voorvalle wat deur LPO-lede gerapporteer is, wat ‘n fraksie van die totale veesektor verteenwoordig, volgens die Namibië Landbou-unie (NLU).

“Boere voel moedeloos omdat niks aan hul situasie gedoen word nie en daarom is die rapportering baie laag. Pogings moet vorentoe aangewend word om boere te motiveer om aan hierdie statistieke deel te neem om sodoende ’n meer verteenwoordigde syfer te kry,”

Roofdieraanvalle kom na vore as ’n prominente faktor in veeverliese, wat meer as N$5,64 miljoen uitmaak.

Beeste, skape, bokke, wild en ‘n paar ander plaasdiere is die slagoffers van roofdiere, met 552 aangemelde voorvalle wat gelei het tot die verlies van 5 686 diere.

Voorvalle met olifante en ander probleemdiere soos vlakvarke, bobbejane en ystervarke dui op die die uitdagings van mens-dierkonflik.

“Daar was 44 verslae van konflik met bogenoemde wild wat tot eiendomskade van N$678 700 gelei het, wat die behoefte aan volhoubare benaderings beklemtoon om mens-dier-konflik te versag.”

Volgens die NLU is die langdurige droogte verantwoordelik vir verliese van meer as N$4, 8 miljoen aan vee en wildvrektes weens siekte en rampe. Dit is volgens 380 verslae.

Diefstal en stropery bly ’n voortdurende probleem, wat meer as N$3, 25 miljoen in verliese tot gevolg het. Beeste, skape, wild en ander bates, insluitend sonkragtoerusting, word geteiken.

“Met 270 aangemelde voorvalle vereis hierdie aspek van verliese ’n gekoördineerde poging tussen wetstoepassingsagentskappe, gemeenskappe en boere om sulke onwettige aktiwiteite hok te slaan,” meen die NLU. – francoise@nmh.com.na

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT