Die twee leeuwyfies wat in aanhouding gebore is op Plaas Harnas naby Gobabis, Ula en Elsa. Foto Facebook

“Leeus is diere met gevoelens. Om mense van een plek na ’n ander te verskuif kan ontstellend wees, maar mense kan hul ontevredenheid uitdruk, diere kan nie. Die natuur het diere in die sorg van mense geplaas om te verseker dat daar te alle tye voorsiening gemaak word vir hul welstand.”

Regter Orben Sibeya het dit Vrydag in sy uitspraak gesê waarin hy beslis het dat twee leeuwyfies wat in September 2017 op die plaas Harnas naby Gobabis in aanhouding gebore is, nie verskuif moet word nie.

Sibeya het die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta se besluit dat die leeuwyfies, Ula en Elsa, gekonfiskeer en na ’n ander fasiliteit in Okapuka geneem moet word, van die hand gewys.

“Dit sal ’n tragedie van geregtigheid wees as die besluit van die minister van 28 September 2021 staan. Nie net vir die diere, Ula en Elsa nie, maar vir die mensdom as versorgers van die diere.

“Die welstand van die leeuwyfies is geïgnoreer,” lui die uitspraak.

AGTERGROND

Ten spyte van die feit dat Ula en Elsa in 2017 gebore is, het Harnas eers in Februarie 2021 by die ministerie aansoek gedoen vir die aanhouding van dié twee groot karnivore.

Shifeta het in September dieselfde jaar besluit om beslag op twee diere te lê.

Die drie trustees van die Harnas Wildlife Foundation Trust, Marieta van der Merwe, haar dogter Marlice van Vuuren en Michiel Pieter Kirsten, het daarna ’n dringende aansoek by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak.

Hulle het ’n tussentydse interdik bekom dat die diere op Harnas moet bly hangend die afhandeling van ’n aansoek wat Shifeta se besluit uitdaag.

Twee jaar later het die hof Vrydag uiteindelik uitspraak gelewer ten gunste van die trustee van Harnas en Shifeta se besluit is finaal tersyde gestel.

Hoewel Sibeya in hul guns beslis het, het hy daarop gewys dat die trustees ook bygedra het tot die leeus se situasie en daarom is geen kostebevel in hul guns uitgereik nie.

HARNAS ‘NIE GEHOOR’

“Selfs al is Harnas verkeerd, moes die minister [Shifeta] Harnas ’n geleentheid gegee het om aangehoor te word voor die besluit geneem is.

“Die minister moes Harnas en die applikante om aanbevelings, die lewensvatbaarheid van die aanbevelings en hul siening van die hervestiging, asook die bestemming aangehoor het,” het Sibeya gesê.

Shifeta het in sy hofstukke beweer hy het gedink dit sal onnodig wees om met die applikante te praat omdat hulle reeds die oortreding erken het.

Sibeya het daarop gewys dat partye, wat deur ’n besluit geraak sal word, aangehoor moet word om aan billike prosedures te voldoen.

Benewens die beslissing dat die applikante aangehoor moes word, het Sibeya beslis dat Shifeta “versuim het om die welstand van die leeuwyfies in ag te neem”.

kristien@nmh-hub.com.na

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT