Turkse Kangale. FOTO WIKIMEDIA COMMONS

Elvira Hattingh -Honde uit Turkye, beter bekend as Turkse Kangale, blyk veeverliese weens wilde roofdiere met soveel as 80% te verminder.

Die Cheetah Conservation Fund (CCF) het onlangs ‘n video vrygestel oor sy navorsingsprojek met dié honderas as veewagters – ‘n projek wat die ondersteuning van die Turkse Ambassade in Namibië geniet.

Die honderas, wat besonder groot is, word in ander lande gebruik om bere en wolwe van vee af weg te hou. In Namibië blyk dit dat die honde doeltreffend daarin te wees om roofdiere soos jagluiperds en luiperds van skape en bokke af weg te hou. Dit blyk dat veeverliese aan die roofdiere met sowat 80% verminder kan word.

Eveline Ikondja, bestuurder van honde-opleiers by CCF, sê die honde word tussen die bokke of skape geplaas wanneer hulle vier weke oud is. Daarna beskou hulle die bokke as familie en beskerm hulle ‘n bok- of skaapkudde teen roofdiere.

Die CCF beskou dit as ‘n manier om bedreigde jagluiperds te beskerm omdat die honde mens-dier-konflik verminder en keer dat veeboere dit nodig ag om jagluiperds uit die weg te ruim.

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT