Voorgestelde wet soos ‘herkolonisering van Afrika’ -Belanghebbendes in die Kaza-gebied het 'n ope brief aan die Britse regering gerig oor 'n voorgestelde invoerverbod op jagtrofeë wat tans oorweeg word.

Ellanie Smit – Gemeenskappe binne die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied (Kaza) sê planne om die invoer van jagtrofeë na die Verenigde Koninkryk te verbied voel soos nog ’n manier om Afrika te herkoloniseer.

Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, het gister gesê Kaza-lande voel hulle word gestraf omdat hulle goed vaar met bewaringspogings.

Hy het gewaarsku dat gemeenskappe sonder trofeejag geen voordele sal insien nie en sal opgee op die bewaringsagenda. Hulle sal hulle eerder tot ander bedrywighede soos landbou wend.

“Wat hulle oorweeg om te doen, is om strafmaatreëls in te stel wat ons 40 jaar sal terugsit. Ons kan nie geïntimideer word deur enige ander lande wat dink om die invoer van trofeë te verbied, sal stropery stop nie.”

Altesaam 109 verteenwoordigers van bewaringsgebiede en gemeenskapsgebaseerde organisasies in dié gebied het hul kommer uitgespreek in ’n ope brief aan die Britse regering met betrekking tot die wetsontwerp op jagtrofeë (invoerverbod) wat tans deur die Britse parlement oorweeg word.

Dié brief is in ’n Suid-Afrikaanse aanlyn dagblad gepubliseer.

In die brief – gerig aan die Britse minister van internasionale ontwikkeling en die Statebond, Andrew Mitchell – het hulle gesê die Britse regering moet daarvan kennis neem dat hierdie wetsontwerp beide die bewaring van wild en die lewensbestaan van gemeenskappe negatief sal raak.

“Deur ons gedeelde regerings se wetgewing is ons die regte gegun om ons natuurlike hulpbronne volhoubaar te bestuur en te benut tot voordeel van ons gemeenskapslede en die natuurlewe.”

Hulle het egter gesê die bewaring van hierdie gebiede is duur en behels groot kapitaalbeleggings om gemeenskapsgebaseerde organisasies se bedryfskoste te dek.

“Om hierdie bedryfskoste te finansier, kom baie van die inkomste uit trofeejag, wat eties gedoen word en ondersteun word deur wetenskaplike moniteringstelsels soos die Event Book-stelsel, vaste roete-patrollies en jaarlikse vleiland- en wildtellings vanuit die lug.”

Volgens die gemeenskappe word die data wat uit hierdie moniteringstelsels verkry word, gebruik om volhoubare kwotas vir trofeejag toe te ken. Wildbestuursowerhede bepaal die aantal diere wat uitgeskiet moet word.

Volgens hulle moet dit beklemtoon word dat hierdie aktiwiteite op gemeenskaplike boerderygrond plaasvind waar daar met vee, gewasse sowel as wild geboer word – nie in nasionale parke nie.

GEVOLGE

Hulle het gesê indien die wetsontwerp aanvaar word, sal dit die aansporings vir landelike boerderygemeenskappe ondermyn om na wild om te sien en volhoubaar te bestuur.

“Dit sal mens-wild-konflik met daardie spesies verhoog wat duur is vir boere om mee saam te leef, asook inkomste verminder en sodoende boere onwillig maak om dié diere op hul grond te hê.”

Hulle het gesê daar sal ook ’n onvolhoubare plaaslike toename wees in sommige spesies soos olifante wat ’n vernietigende impak op plantegroei en habitatte het, en sodoende die breër biodiversiteit, insluitend ’n aantal bedreigde spesies, sal beïnvloed.

“Met verminderde inkomste uit trofeejag sal stropery toeneem omdat daar minder finansiering sal wees om salarisse aan gemeenskapswildwagters te betaal vir hul teenstropery-patrollies.”

Die gemeenskappe het bygevoeg dat die voedingstatus van mense geraak sal word omdat daar minder vleis sal wees om onder gemeenskappe te versprei.

“As trofeejag ophou, sal ons wildlande deur ander grondbenuttingsaktiwiteite aangetas word, met die potensiaal om ontbossing te verhoog en die natuurlike habitat van wilde diere te vernietig, wat sal lei tot ’n afname in talle wildspesies.”

Hulle het voorts aangevoer die verlies aan inkomste uit trofeejag sal werkloosheid en armoede in gemeenskappe drasties verhoog en sommige gemeenskapslede na stropery dryf.

’Ons voel dit is nog ’n manier om Afrika te herkoloniseer, met al die gevolge wat ons voorvaders getref het.”

Hulle het gevolglik Britse parlementariërs genooi om Afrika te besoek om hul bewaringspogings te sien in plaas daarvan om na diereregte-aktiviste te luister wat geen kennis en ervaring het om met wilde diere saam te leef nie.

“Laat jou ambassadeurs alternatiewelik met ons in verbinding tree en die feite aan julle deurgee.”

Kaza strek oor 520 000 vierkante kilometer van Angola, Botswana, Namibië en Zambië.

republikein@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT