‘n Studie oor swartrenosters se voortplanting toon dat hulle goed vaar in Namibië. FOTO PEXELS.COM

’n Studie wys dat weerstoestande en die gepaardgaande beskikbaarheid van kos ’n groot invloed op swartrenosters se voortplanting het.

’n Studie oor swartrenosters se voortplanting toon dat hulle goed vaar in Namibië, ten spyte van die land se droë toestande.

Dit is gemeet aan plaaslike swartrenosters, of spesifiek die swartrenoster-subspesie Diceros bicornis bicornis, se ouderdom van eerste kalwing, interkalfperiode, bevolkingsgroei en oorlewingsyfers.

Dit aldus ’n onlangse studie deur die navorsers Jeff Muntifering, Abigail Guerier, Piet Beytell en Ken Stratford.

Die navorsers sê hierdie inligting is ’n goue standaard vir doeltreffende wildbestuur en -bewaring, tog is dit dikwels duur of moeilik bekombaar vir bestuurders. Die navorsers het dienooreenkomstig 20 jaar se moniteringsdata van individuele renosters van oraloor die land met behulp van teoretiese inligtingsmodelle ontleed.

Die modelle dui aan dat weerstoestande en die gepaardgaande beskikbaarheid van kos ’n groot invloed op hul voortplanting het, met veral swartrenosters se interkalfperiode wat sterk beïnvloed word deur reëntoestande oor die voorafgaande 15 maande. Daarbenewens het die navorsers ook vasgestel dat bevrugting hoofsaaklik tydens die reënseisoen voorkom.

Namibië is die tuiste van een derde van die wêreld se swartrenosters.

JARELANGE REKORDHOUDING

Volgens die navorsers word renosters tans intensief bestuur vir maksimum bevolkingsgroei, waar hulle aangehou word in bewaringsgebiede of op private grond, met net enkele renosterbevolkings wat nog oor is op plekke wat nie formele beskerming geniet nie, of in Namibië se kommunale gebiede.

“Vir bestuurspraktyke wat optimale groei verseker, is dit nodig dat daar ’n goeie begrip gevestig word van die status en dryfkrag agter die dinamiek van swartrenosters se bevolkingsdinamiek,” het die navorsers opgemerk.

Daarbenewens het Namibië ’n lang geskiedenis van die bestuur van swartrenosters, wat oor dekades heen strek en gebaseer is op goeie navorsing en monitering van die diere.

Metodes waar renosters individueel gemonitor is en geïdentifiseer is aan kenmerke soos die vorm van hul horings of aan happe uit hul ore, is reeds in die laat 1980’s in die noordweste van Namibië geïmplementeer. Hierdie metodes is later, in die vroeë 1990’s, met digitale databasisse aangevul. Meer onlangs is daar van die Smart Conservation-sagteware gebruik gemaak.

Metodes waar renosters individueel gemonitor en identifiseer is aan kenmerke soos die vorm van hul horings of aan happe uit hul ore, is reeds in die laat 1980’s in die noordweste van Namibië geïmplementeer. FOTO PEXELS.COM

KRITIEK BEDREIG

Namibië is ook die tuiste van een derde van die wêreld se swartrenosters en die tuiste van 90% van die subspesie Diceros bicornis bicornis.

Terwyl renosters eens op ’n tyd wydverspreid oor Afrika suid van die Sahara voorgekom het, het hul bevolkingsgetalle van sowat 65 000 in 1970 na sowat 2 500 in 1992 gedaal en word die swartrenoster as kritiek bedreig in die Wêreldbewaringsorganisasie (IUCN) se rooilys gekategoriseer.

Die afname in hul bevolkingsgetalle word toegeskryf aan ’n sterk vraag na renosterhorings in Asië, hoofsaaklik vir die gebruik in tradisionele medisyne, maar ook as korporatiewe geskenke en beleggingsgeleenthede.

Terwyl ’n dekade verloop het waartydens min renosters gestroop is, het dit oor die afgelope dekade skerp toegeneem.  – elvira@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT