Van die gesteelde Conophytum-plantjies wat tans blom. Foto verskaf

Hilde Mouton en Eduard April in die Lithoparium (kweekhuis vir Lithops) met die gesteelde Conophytum-plante wat tans in blom is. Foto verskaf

Conophytum-plante en Lithops by Warmbad uitgegrawe – Die plan is om die nuwe sade net voor die reënseisoen te gaan strooi op die plek waar hulle verlede jaar onwettig uitgegrawe is.

Tanja Bause

Die diefstal van plante in Namibië is besig om toe te neem en kan ‘n reuseprobleem word. Die plante, baie van hulle beskermd of bedreig, word gestroop met die doel om hulle uit die land te smokkel.

Tussen 10 en 12 Julie verlede jaar is 1 400 Conophytum-plante, ’n soort dwergvetplant, en Lithops, ofte wel beeskloutjies, by Warmbad uitgegrawe.

’n Groep mense het probeer die plante by die Onseepkans-grenspos uit die land smokkel, toe ‘n polisiebeampte snuf in die neus gekry het en verdere ondersoek ingestel het. Sy het op die 1 400 plante afgekom en twee mense is aan die Namibiese kant in hegtenis geneem. Nog twee persone is aan die Suid-Afrikaanse kant in hegtenis geneem en twee ander verdagtes het op die vlug geslaan.

Volgens Hilde Mouton van die Lithops Reserach and Conservation Foundation en mede-eienaar van die Alte Kalkofen Lodge buite Keetmanshoop, waar die grootste versameling van beeskloutjies in Namibië en waarskynlik in die wêreld gehuisves word, is al die plante ná die beslaglegging na die polisiekantoor op Karasburg geneem.

“Ek is toe deur iemand van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme gekontak. Hulle het die plante vir my gegee vir veilige bewaring en versorging. Ongelukkig het ek net 336 van die 1 400 plante gekry omdat die ander uit die polisiekantoor verdwyn het.”

Op 27 November het die ministerie op nog 1 632 gesteelde plante beslag gelê.

“Die beampte was baie proaktief en het my onmiddellik gekontak sodat ek die plante in Keetmanshoop kon gaan optel. Hy het al die regte dokumente in plek gekry dat ek die beskermde plante mag vervoer en aanhou. Ek het al 1 632 plante gaan haal en hulle doen nou baie goed en is gevestig. Soveel so dat hulle almal nou besig is om te blom en saad te vorm – wat ons dan weer net voor die reënseisoen gaan saai, daar waar hulle oorspronklik gegroei het.”

Al die plante is op plase suid van Warmbad gesteel. Van die plase is onbewoon en baie bergagtig. Hilde en haar man, Frikkie, was in April vanjaar in die omgewing en het die plek besoek waar die plante oorspronklik gegroei het.

“Die koppie lyk soos sifdraad met al die gate waar die plante uitgehaal is. In Suid-Afrika is daar ook talle koppies waar nie een van die plante meer groei nie. Die koppies is rot en kaal gesteel. ”

Die Lithops Research and Conservation Foundation se lede is Roy Earle van Engeland, Marc Mougin van Frankryk, Ronnie Uijs van Suid-Afrika, Peter Beiersdorff en Jaan Lepsen van Amerika, en natuurlik Hilde en Frikkie van Namibië. Die stigting het ten doel om die plante te beskerm en hervestig – nie net in Namibië nie, maar ook in Suid-Afrika.

“As ons Lithops terugplant, doen ons dit gewoonlik waar ‘n boer ’n bietjie daarna kan kyk, of ons self as dit naby genoeg is. Met die Lithops het ons ook maar mislukkings en suksesse gehad – ons is nog steeds besig om te leer oor die plante – die beste manier om hulle te plant, hul wortels te beskerm en watter tyd die beste is om hulle terug te plant en hoe hul dinamika werk. Conophytum-plante – spesifiek Conophytum friedrichiae – is baie sag en amper deurskynend en alhoewel hulle in die bloedige hitte van die son groei, word die plante tog beskerm deur die kwartsklippe en gruis waarin hulle groei.

Hilde Mouton en Eduard April in die Lithoparium (kweekhuis vir Lithops) met die gesteelde Conophytum-plante wat tans in blom is. Foto verskaf

Ons het hulle nog nie in die natuur probeer hervestig nie. My logika sê net vir my dat dit beter gaan wees en dalk meer suksesvol om eerder die saad in massas te gaan strooi op die plekke waar dit (oorspronklik) gegroei het. Dit sal natuurlik gedoen moet word wanneer die omstandighede die beste is. Die saad kan miskien net voor die reënseisoen gestrooi word en dan lê hulle net mooi reg en wag vir die reën om te ontkiem,” het Hilde gesê.  tanja@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT