Die onwettige oes en handel in plante in Namibië het die afgelope paar jaar die hoogte in geskiet. Ellanie Smit

Die arrestasies van verdagtes vir misdade wat met bogenoemde verband hou, het ook van drie in 2021 tot 42 verlede jaar gestyg.

Volgens die Namibië Nasionale Wildbewaringsverslag vir 2024 is dit duidelik dat plaaslike plante toenemend gewild in die handel van sierplante (wat vir ornamentele doeleindes geplant word) raak, wat deur aanlyn bemarking aangedryf word.

Statistiek in die verslag toon dat 1 211 plantprodukte verlede jaar afgeneem is en 18 sake wat met plantmisdade verband hou, is geregistreer, terwyl nege sake gefinaliseer is. Vyf verdagtes is skuldig bevind wat tot ’n skuldigbevindingskoers van 56% gelei het.

Luidens die verslag kan ten minste ’n deel van die toename in arrestasies toegeskryf word aan gefokusde pogings van wetstoepassers en wat proaktiewe ondersoeke na die aanlyn handel van Namibiese plante insluit.

“Die ondersoeke is gemotiveer deur die produktiewe handel in lewende plante wat die afgelope jaar in Suid-Afrika aangemeld is, veral in die Noord-Kaap en die Nama-Karoo en vetplantbiome in die Karoo wat met Namibië gedeel word.”

Dié biome is die tuiste van ’n groot aantal aanloklike gelokaliseerde endemiese plante wat hoë pryse as sierplante behaal.

Volgens die verslag het ondersoeke na aktiewe gevalle van die handel in plante, sowel as breër ondersoeke na globale handelsdinamika ’n verreikende kriminele verbintenis getoon.

“Goed georganiseerde misdaadsindikate met internasionale bande teiken duidelik Namibiese plante,” aldus die verslag.

Die verslag sê ook dat endemiese en byna-endemiese Namibiese plante openlik te koop aangebied word.

Talle van dié plante kan met ’n hoë mate van vertroue geïdentifiseer word as spesies wat onwettig uit die natuur geoes word op grond van hul groeivorm en ander karaktereienskappe.

OLIFANTVOET

Tans is die olifantvoet, wat as endemies aan die Namibwoestyn geklassifiseer word, een van die mees geteikende spesies, met 326 van dié plante wat verlede jaar geoes is.

“Verskeie beslagleggings op groot besendings olifantvoet-plante het die afgelope drie jaar plaasgevind.

“Die plant groei uiters stadig en is plek-plek versprei. Tensy stropery spoedig bekamp word, gaan die olifantvoet oor die grootste deel van sy huidige ligging uitsterf,” lui die verslag.

DUIWELSKLOU

Die verslag lui verder dat duiwelsklou (Harpagophytum zeyheri en Harpagophytum) ’n inheemse plantspesie in Namibië is met waardevolle medisinale eienskappe en wat internasionaal baie gesog geraak het.

Volhoubare, wettige oeste van duiwelsklou-knolle verskaf vir baie jare ’n belangrike bron van inkomste aan landelike gemeenskappe.

“Ongelukkig word pogings om onwettige oeste in die beheerde wettige handel in te bring steeds oopgevlek. Daar is in onlangse jare beslag gelê op ’n aantal onwettige besendings duiwelsklou, insluitend 2023.

“Sommige van die materiaal is onwettig in buurlande geoes en na Namibië gesmokkel.”

Die verslag verwys na die land se hout wat steeds die onwettige uitbuiting vir drie verskillende markte in die gesig staar: hout, vuurmaakhout en houtskool.

’n Moratorium op die oes van hout is sedert 2018 in plek om kwesbare woude teen oorbenutting te beskerm.

Die onwettige oes van hout wat via wettige voorrade van voor die verbod gewas (laundered) word, is ook ’n groot bron van kommer, terwyl die oorgrenshandel van onwettige hout tussen Namibië en buurlande ’n wesenlike uitdaging vir onwettige handel inhou.  
republikein@republikein.com.na

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT