Shasha die jagluiperd voel beter

Fotos: Cheetah Conservation Fund

Katharina Moser -Kommer het onlangs geheers nadat een van die agt jagluiperds wat ’n paar maande gelede in Indië hervestig is, siek geword het.

Volgens India TV voel Shasha tans beter nadat sy gedehidreer was en nierprobleme gehad het.

Die bestuur van die Kuno Nasionale Park – waar die agt Namibiese jagluiperds hervestig is – het vir Shasha in ’n kleiner deel geplaas waar die veeartse haar voortdurend kon monitor.

Volgens Prakash Verma wat vir die park verantwoordelik is, word die jagluiperds elke dag gemonitor. Dit is hoe hulle vasgestel het dat Shasha swakker geraak het.

“Die veeartse het toetse gedoen en vasgestel dat sy gedehidreer is en nierprobleme het. Ons moes ook ’n sonar doen, maar het nie die regte toerusting gehad nie. Ons het veeartse vanaf Bhopal met die toerusting laat kom. Hulle sal die uitslae later met ons deel,” het hy gesê.

Dr. Lauri Marker van Cheetah Foundation Fund (CCF) het dit bevestig en bygevoeg dat Shasha se nierprobleme en dehidrasie nie ’n oorsaak is van die omgewing of omstandighede in hul nuwe tuiste nie.

“Die span werk hard om die welsyn van die diere te verseker. Die projek is goed aan die gang en verloop glad.”

Die agt jagluiperds is in September 2022 in Indië in die Kuno Nasionale Park hervestig.

Indië wil jagluiperds – wat al etlike jare gelede in die land uitgesterf het – weer daar vestig. Die plan is om vandeesmaand nog 12 jagluiperds vanaf Suid-Afrika in die park te hervestig.

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT