Roofvoëls Veilig

Dr. Maaike de Schepper, veearts van N/a’an ku sê en Shauna Jenkins, hoof van navorsing en vrywillige projekte met die Kaapse aasvoëlbroeipare Halle en Nesher by die N/a’an ku sê wildrestevaat. Foto verskaf

Tanja Bause -Nege voëls het uiteindelik veilig by die N/a’an ku sê wildreservaat buite Windhoek aangekom. Dit volg nadat die hoërhof in Windhoek ’n tussentydse interdik uitgereik het wat beveel dat nege bedreigde voëls van die Rare and Endangered Species Trust (Rest) na dié wildreservaat verskuif mag word.

Vroeg die oggend van 3 Januarie het die span van N/a’an ku sê op ’n klein vliegtuig by die Eros lughawe geklim en Otjiwarongo toe gevlieg.

In Otjiwarongo by Rest het Maria Diekmann en haar span al die voëls gevang en in die vervoerkratte geplaas. Die kratte is in die vliegtuig gelaai en direk na die N/a’an ku sê wildreservaat vervoer waar die voëls in hul nuwe hokke vrygelaat is.

“Ons het besluit om van die vliegtuig gebruik te maak om die stres op die voëls te verminder en die vervoer so glad as moontlik te maak,” het Colette Massier van N/a’an ku sê gesê.

Die nege voëls wat verskuif is, sluit die Kaapse aasvoëlbroeipaar Halle en Nesher en hul pas uitgebroeide kuiken Phoenix in, asook die twee roofarende (Tom Tom en Acquila), ’n bateleurarend (Ollie), ’n Afrika-grootjagarend (Pirate), ’n reuseooruil (Big Boy) en ’n gevlekte ooruil (Poppy).

Maria Diekmann van Rest en haar span het die nege voëls gevang en in die kratte gesit. Foto verskaf

“Daar word geskat dat nog net sowat 20 Kaapse aasvoëlbroeipare in Namibië oor is. Sodra Phoenix die kuiken sterk genoeg en oud genoeg is, sal hy of sy vrygelaat word. Phoenix sal ’n welkome toevoeging tot die spesie en hul voortbestaan wees.

“Die ander voëls kan ongelukkig nie vrygelaat word nie omdat hulle almal in gevangeskap beland het omdat hulle deur voertuie raakgery is. Hulle het gevolglik fisieke kwale wat nie hul vrylating in die natuur toelaat nie. Boonop is al die voëls (behalwe Phoenix) mak.”

AGTERGROND

Die hofbevel kom nadat die N/a’an ku sê-stigting op 18 Julie verlede jaar ’n dringende aansoek teen die minister van die omgewing, bosbou en toerisme ingedien het om die sorg van die voëls by Rest oor te neem.

Rest het op 20 Oktober vanjaar toegemaak en wou die voëls aan N/a’an ku sê skenk, maar die stigting kon na bewering nie die vereiste permitte van die ministerie verkry om die voëls te vervoer en aan te hou nie.

Regter George Coleman het in Julie beslis die ministerie mag nie die agt bedreigde voëls en een eier by Rest se perseel in die omgewing van Otjiwarongo verwyder nie.

Coleman het ’n hofbevel uitgereik wat toestemming gee dat die voëls na N/a’an ku sê verskuif word en dat hulle in dié wildreservaat en Rest se sorg sal bly totdat uitspraak in die saak op 9 Maart gelewer sal word.

‘NATUUR REGULEER HOMSELF’

Die ministerie het in sy geskrewe betoë beweer die skenking van die voëls deur Rest aan N/a’an ku sê was ongeldig en nietig.

Ingevolge die bepalings van artikel 46 van die Natuurbewaringsordonnansie 4 van 1975 mag Rest na bewering nie die voëls skenk nie, omdat Rest in die eerste plek nie die nodige permit het om die voëls aan te hou nie.

Die minister, mnr. Pohamba Shifeta, het in sy verklaring gesê hy het nog nie ’n besluit geneem oor die aansoeke wat N/a’an ku sê ingedien het nie. Hy beweer verder die hof het nie die mag om die permitte uit te reik nie.

“Die natuur reguleer homself wanneer dit by siek of beseerde diere kom. Ek glo dis waaroor die ‘sirkel van die lewe’ gaan. Beseerde of kreupel voëls dien geen opvoeding- of bewaringswaarde nie.

“Dit is ook so reeds in 2003 aan Rest verduidelik toe die aansoek om voëls aan te hou, oorweeg is,” het Shifeta in ’n verklaring gesê wat by die hoërhof in Windhoek ingedien is.

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT