Regsaksie Teen Omgewingsminister Duur Voort

“Die verskuiwing van ’n samewerkende en ingeligte benadering na een wat gekenmerk word deur eensydige besluite en ’n gebrek aan deursigtigheid ondermyn nie net die geloofwaardigheid van die regulatoriese proses nie, maar hou ook aansienlike risiko’s in vir wildbewaringspogings en die etiese bestuur van natuurlike hulpbronne.”

So het Marlice van Vuuren van die N/a’anku sê-stigting in ’n verklaring gesê in verband met die hofsaak waarin die stigting eis dat die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, se besluit om die regulasies met betrekking tot onder meer die aanhouding van groot karnivore te wysig, hersien en tersyde gestel moet word.

Die betrokke wysiging het betrekking tot die regulasies wat voorheen toegelaat het dat ’n groot karnivoor in ’n minimum van een hektaar aangehou moet word. Die nuwe regulasies stipuleer tans dat groot karnivore in ’n minimum van vyf hektaar aangehou moet word.

Die ander regulasies waarna Van Vuuren verwys, het betrekking op foto’s wat van groot karnivore in aanhouding geneem mag word en die omstandighede waaronder dié diere gevang kan word.

In die saak beweer Van Vuuren dat die nuwe regulasies van 2022 aansienlike verskille toon in vergelyking met die konsepregulasies van 2019. Sy voer verder aan dat Shifeta nie billike administratiewe prosesse gevolg het om die regulasies te wysig nie.

“Hierdie verskille is nie blote redaksionele of wetlike opstelveranderings nie, maar is wesenlike en feitelike afwykings.

“Die verskille tussen die 2019-konsepregulasies en die nuwe regulasies – tesame met die afwesigheid van ’n deursigtige en rasionele besluitnemingsraamwerk en die gebrek aan betrokkenheid van belanghebbendes – beklemtoon die onredelike, irrasionele en arbitrêre aard van die administratiewe besluit.”

Shifeta voer egter aan dat die nuwe regulasies ingestel is op grond van billike administratiewe optrede en prosesse.

Die saak is gister in die hoërhof in Windhoek tot 3 Junie uitgestel.

‘GEEN KONSULTASIES’

Sy meen verder dat geaffekteerde belanghebbendes nie die geleentheid gegun is om aan die besluitnemingsproses deel te neem nie en hul menings en bekommernisse is nie behoorlik oorweeg nie.

“Die aard van die regulatoriese wysigings wat gemaak is in die afwesigheid van ’n deursigtige konsultasieproses en ’n gebrek aan ’n samehangende verduideliking vir die wysigings, is strydig met die beginsel van billikheid in administratiewe optrede,” beweer Van Vuuren in haar verklaring.

Sy beweer ook dat die ministerie se versuim om met relevante belanghebbendes in gesprek te tree, ’n prosedurele fout was.

“Die narratief beklemtoon ’n kommerwekkende neiging binne die omgewingsministerie, gekenmerk deur ’n afname in die betrokkenheid van belanghebbendes en ’n verontagsaming van gevestigde bewaringsriglyne.”

BEWEERDE VERSKILLE

Van Vuuren beweer daar is geen bewyse om die verandering in die area waarin groot karnivore aangehou word, te regverdig nie.

Sy beweer verder dat die 2019-konsepregulasies nie die afneem of publikasie van foto’s van groot karnivore verbied het nie. Die nuwe regulasies stel egter veelvuldige beperkings op die fotografie en verspreiding van beelde van groot karnivore.

Dit verbied die verspreiding van foto’s van groot karnivore in kontak met mense op sosiale media, drukmedia of televisie.

Die minister kan wel in sekere omstandighede foto’s goedgekeur, soos vir opvoedkundige, wetstoepassing-, mediese of identifikasiedoeleindes.

Die konsepregulasies het toegelaat dat groot karnivore slegs gevang kan word in voorvalle van mens-dier-konflik. Van Vuuren wys daarop dat die nuwe regulasies drie voorvalle identifiseer waarin groot karnivore gevang kan word – mens-wild-konflik, wanneer diere uit fasiliteite ontsnap of beseerde, siek of weesdiere.

“Die uitbreiding van die nuwe regulasies, hoewel dit oënskynlik progressief lyk, wek beduidende kommer oor die redelikheid en rasionaliteit daarvan, veral in die afwesigheid van dokumentêre bewyse of eksplisiete voorskrifte van die ministerie.

“Sonder ’n duidelike regulatoriese of beleidsraamwerk wat die implementering-, toesig- en aanspreeklikheidsmeganismes uiteensit, is daar ’n risiko om onduidelikhede en skuiwergate te skep wat uitgebuit kan word tot nadeel van wildbewaringspogings,” voer Van Vuuren aan. – kristien@nmh-hub.com.na

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT