Iréne-Mari van der Walt -Ellanie Smit – Terwyl Namibië slegs 57 van die 170 olifante wat in 2020 te koop aangebied is wel verkoop het, sê die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme dat die verkoop van lewende olifante steeds een van die maatreëls is om mens-olifant-konflik te versag.

So het Ella Hamunyela, die direkteur van wetenskaplike dienste in die minister, onlangs in ’n voorlegging gesê.

Sy het bygevoeg dat die ministerie in Desember 2020 geadverteer het om 170 lewende olifante te verkoop.

Dit was in reaksie op droogtetoestande en die toename in dié diere se getalle asook voorvalle van mens-olifant-konflik. Die olifante is van die Omatjetje-omgewing, die Kamanjab kommersiële boerdery-gebied, die Grootfontein-Kavango-beesboerderygebied en die Grootfontein-Tsumkwe-gebied.

“Ons kon egter net 57 olifante verkoop.”

Die omgewingsministerie het dié olifante aan drie verskillende bieërs verkoop. Die veiling het N$5,9 miljoen gegenereer, hoewel die ministerie minstens N$13 miljoen wou insamel.

“Ja, ons het ’n inkomste daaruit gemaak, maar ons het ook heelwat kritiek ontvang. Ons is daarvoor gekritiseer hoewel ons alles volgens die reëls gedoen het. Ons het geen nasionale of internasionale wetgewing oortree nie.”

Uit die 57 olifante wat suksesvol verkoop is, is 37 gevang, waarvan 22 na twee dieretuine in die Verenigde Emirate uitgevoer is.

Altesaam 15 van die olifante het in die land gebly en is in die Omatjetje-gebied in die Erongostreek gevang, het Hamunyela gesê.

Die olifante is reeds aan die suksesvolle bieër, N/a’an ku sê Foundation Wildlife Sanctuary, verskaf.

Hamunyela het gesê die ander 20 olifante wat vir uitvoerdoeleindes gekoop is, is steeds in Namibië.

Volgens die ministerie se woordvoerder, Romeo Muyunda, moet ooreenkomste nog onderteken word.

“As ons kyk na wat ons geadverteer het en dat ons net daarin kon slaag om 57 olifante te verkoop, dan weet ons nie of daar regtig belangstelling in die mark is nie. . . maar ons sal probeer kyk of ons nog lewende olifante kan verkoop solank ons nie enige wetgewing oortree nie,” het Muyunda gesê. – republikein@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT