Ellanie Smit – Die eerste gesinchroniseerde oorgrens-lugopname van die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied (Kaza TFCA) is verlede jaar uitgevoer en sal beleidvorming en bestuursbesluite oor olifante raak.

Dit volgens dr. Nyambe Nyambe, die uitvoerende direkteur van die Kaza TFCA-sekretariaat, by ’n voorlegging oor die status en bestuur van olifante in die bewaringsgebied.

Na raming is daar meer as 24 000 olifante in Namibië se deel van Kaza.

Die Kaza TFCA is die grootste oorgrensbewaringsgebied ter wêreld wat byna 520 000 vierkante kilometer in Angola, Botswana, Zambië, Zimbabwe en Namibië beslaan.

Namibië beslaan sowat 14% van hierdie gebied.

Nyambe het gesê die olifante wat in Kaza voorkom, verteenwoordig 50% van die savanna-olifantbevolking.

“As jy die ander SADC-lande byvoeg, praat jy waarskynlik van tot 80% van die olifantbevolking en dit bring die baie belangrike kwessie van oorgrensbestuur en samewerking na vore.”

Nyambe het gesê die status van olifante moet gesien word in die konteks dat die laaste gesamentlike olifantopname oor die gebied, genaamd die Groot Olifantsensus, in 2014-’15 was. Namibië was nie ingesluit nie.

“Ons het egter later wel data van Namibië ingesluit, ons het syfers van daardie basislyn gehad. Maar daar was ’n probleem in die sin dat daar nie ’n enkele metodologie was nie – dit was nie gekoördineer nie en dit is op verskillende tye gedoen.”

Die huidige olifantsensus is vanaf Augustus tot einde Oktober 2022 onderneem en het 60% van Kaza gedek.

Volgens Nyambe is baie ontledings gedurende hierdie tydperk gedoen, die saamgestelde verslag is deur die vennootstate nagegaan en sal nou na drie eksterne hersieners toe gaan.

Nyambe het gesê die doel van die opname is om relatief akkurate skattings van die olifante in Kaza asook die verspreiding van die bevolking en vrektesyfers te verskaf.

“Wat ons met die jongste opname van 2022 gedoen het, is om terug te gaan en onsself vrae gevra het soos hoe ons dit beter kan doen.”

Hy het gesê Kaza-vennootstate het toe ’n metodologie ontwikkel wat in ooreenstemming is met die Konvensie vir die Handel in Bedreigde Spesies (Cites) se Monitor die Onwettige Doodmaak van Olifante (Mike)-program se standaarde vir lugopnames.

“Dit is ’n verslag wat nogal leersaam gaan wees, want dit is die eerste keer ooit dat die sensus op dié manier gedoen gaan word.

“Ons gaan nou ’n datastel hê wat nuttig sal wees vir beleidvorming – nie net vir vennootstate nie, maar ook op oorgrensvlak.”

Nyambe het gesê Kaza bied geweldige geleenthede om datastelle op skaal te skep en dit kan nie bereik word deur in isolasie te werk nie.

Hy het opgemerk dit sou nie vir een land moontlik wees om US$3,2 miljoen te mobiliseer om so ’n opname te onderneem nie. Deur samewerking kon dit egter uitgevoer word en deur verskillende skenkers gefinansier word.

Met betrekking tot mens-wild-konflik het Nyambe daarop gewys dat Kaza ’n “mosaïek van grondgebruike” is.

Dit beteken daar is mense wat met olifante en ander wildspesies saamleef en grond en ruimtes deel.

Hy het gesê spesifiek met betrekking tot olifante het Kaza-vennootstate besluit dat hulle een harmoniseringstrategie nodig het, waarna hulle ’n strategiese raamwerk vir die bestuur van hierdie spesie ontwikkel het.

Sommige van die doelwitte van die raamwerk is om die ontwikkeling van ’n geïntegreerde grondgebruikbeplanningsproses te fasiliteer asook die instandhouding en bestuur van Kaza se olifante as een bevolking. Die bestuur van mens-olifant-konflik vir ekologiese en ekonomiese voordele is ook ’n prioriteit.

Nyambe het gesê dit is ook daarop gemik om die onwettige doodmaak van olifante te verminder asook om ’n hoë vlak van die besluitnemingsproses vir die bestuur van die spesie te vestig. – republikein@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT