Die jagluiperdwyfies, Nika en Zhandile, op Ingrid Nolte se plaas naby Keetmanshoop waar hulle die afgelope vyf jaar woon. Foto verskaf

Aansoek om appèl gister ingedien – Kristien Kruger

“As dit my jagluiperds was, sou ek eers probeer uitvind het waarheen die ministerie hulle gaan vat en wie hulle gaan monitor. Anders sal ek hulle self skiet, want hulle het ’n doodsvonnis gekry.”

So het Donna Hansen, die direkteur van die Okonjima AfriCat-stigting, gister aan Republikein gesê op navrae in verband met twee mak jagluiperdwyfies, Nika en Zhandile, wat die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme binnekort van ’n plaas in die Keetmanshoop-omgewing gaan verwyder en na ’n nasionale park gaan verskuif.

Hansen meen ’n vinnige dood sal beter wees as die uitgerekte lyding wat hulle moontlik kan ervaar wanneer hulle in ’n vreemde omgewing vrygelaat word.

Rudie van Vuuren, die uitvoerende hoof van die N/a’an ku sê-maatskappygroep, meen ook dat die jagluiperds “verseker na hul graf gestuur word”. Hy beklemtoon dat sy mening op wetenskap gebaseer is en nie op emosie nie.

“Dié diere is wat ons noem ‘roofdier-naïef’. Hulle weet nie wat hulle kan doodmaak nie, en is ook aan mense gewoond. Hulle gaan na plaasopstalle stap omdat dit is waar hulle kos gekry het en dan gaan hulle geskiet word,” het Van Vuuren gister aan Republikein gesê.

Beide Van Vuuren en Hansen het daarop gewys dat diere in gevangenskap wel in die natuur kan oorleef, maar dit verg deeglike monitering.

“Dis moontlik om diere in gevangenskap te rehabiliteer, maar die proses is ingewikkeld, duur en intens,” het Hansen gesê.

Volgens Hansen is selfs net die vervoer van ’n wilde dier vir die dier baie stresvol en dan moet mak jagluiperds vir hulself leer jag, wat baie uitputtend kan wees.

Dit gebeur ook gereeld dat jagluiperds wat reeds in die omgewing gevestig is, die jagluiperds wat in aanhouding was, aanval en vrekmaak omdat hulle ’n bedreiging is.

Republikein het die ministerie genader en gevra wanneer en na watter nasionale park die jagluiperds geneem sal word, maar die ministerie het teen druktyd nog nie antwoorde verskaf nie.

ONDERSTEUN DIE MINISTERIE

Hoewel Hansen simpatiseer met Ingrid Nolte – die vrou wat die afgelope vyf jaar vir Nika en Zhandile sorg – en erken dat die diere nie ’n skuif na ’n nasionale park sal oorleef nie, het sy gesê AfriCat verstaan waarom die ministerie streng maatreëls instel.

“Die regering probeer om te verhoed wat tans in Suid-Afrika gebeur waar daar meer leeus in aanhouding is as in die natuur.”

Sy wys daarop dat wilde diere wat as troeteldiere aangehou word, handuit ruk en dat sommige mense met diere in aanhouding teel en ander hulle as trekpleisters gebruik.

“Ons ondersteun die regering en die ministerie. Hulle is siek en sat daarvoor en probeer om dit stop te sit.”

Sy meen die ministerie gebruik die huidige situasie met Nika en Zhandile as ’n voorbeeld van wat kan gebeur as mense nie aan wette voldoen nie.

Sy verduidelik organisasies wat wilde diere aanhou betaal meer as N$2 000 per jaar per dier en hulle word streng deur die ministerie gemonitor.

APPÈLAANSOEK INGEDIEN

Nolte het vyf jaar gelede vir Nika en Zhandile in haar sorg geneem toe hulle nog welpies was en hulle op haar en haar man se plaas naby Keetmanshoop grootgemaak

Die ministerie het haar aansoek om die diere aan te hou, afgekeur omdat sy nie kon bewys dat sy hulle wettiglik in haar sorg geneem het nie.

Daarna het sy die hoërhof in Windhoek genader en versoek dat hulle die ministerie se besluit moet hersien. Regter Collins Parker het egter verlede week Nolte se aansoek van die hand gewys en ten gunste van die ministerie beslis.

Suné de Klerk, ’n prokureur by die regsfirma Cronje Inc. wat Nolte verteenwoordig, het bevestig dat hulle gister ’n aansoek om appèl teen Parker se uitspraak by die hof ingedien het. – kristien@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT