Napha se president, Axel Cramer, het gesê die aanbevelings is daarop gemik om mens-dier-konflik te bekamp terwyl die volhoubaarheid van luiperdbevolkings in Namibië verseker word.

“Ons erken die ingewikkeldheid om die behoeftes van ons gemeenskappe te balanseer met die noodsaaklikheid om ons natuurlike erfenis te bewaar,” het hy gesê.

Cramer het gesê Napha verplig die nakoming van wetlike en etiese standaarde onder sy lede.

“Elke lid het ’n gedragskode onderteken wat hom daartoe verbind om die hoogste standaarde van etiese jagpraktyke te handhaaf.

“Hierdie gedragskode is nie bloot ’n formaliteit nie, maar ’n belofte om verantwoordelik en met diepgaande respek aan jagaktiwiteite deel te neem tot voordeel van die diere en die omgewing waarin hulle leef.”

‘WETTIG EN ETIES’

Volgens Cramer was dit in die lig van onlangse bewerings in die media oor die kwessie van luiperdjagpraktyke in Namibië noodsaaklik om hul standpunt duidelik te maak.

Hy het aangevoer dat die betrokke artikel in die media glo ’n eensydige siening van luiperdjagpraktyke in Namibië bied.

“Dit is van kardinale belang om te onderskei tussen wettige, etiese jagpraktyke en onwettige aktiwiteite.”

Cramer het opgemerk dat jag met honde byvoorbeeld in die verlede wettig was, maar nie meer ingevolge die huidige regulasies toegelaat word nie.

UITDAGEND

Hy het gesê die gebruik van aas, insluitend donkievleis, is ’n wettige en beheerde metode van jag, veral in gebiede waar ander prooi skaars is.

“Luiperds is nagdiere wat dit besonders uitdagend maak om hulle te jag, aangesien ’n mens wetlik slegs toegelaat word om te jag vanaf 30 minute voor sonop tot 30 minute ná sononder.

“Hierdie regulasie beklemtoon die uitdaging en vaardigheid wat nodig is om hierdie ontwykende diere binne die grense van die wet te jag.”

Cramer het hul lede aangemoedig om voort te gaan om te voldoen aan die reëls, regulasies en wette wat deur die lede en Napha uiteengesit is.

Hy het gesê dat Namibië deur die gesamentlike nakoming van hierdie riglyne die volhoubaarheid van wildbevolkings en die langtermyn-lewensvatbaarheid van jag as ’n komponent van Namibië se bewaringstrategie kan verseker. – republikein@republikein.com.na

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT