Volhoubare jagbedrywighede is ‘n strategiese stap, gedryf deur die grondwet asook ‘n behoefte aan ‘n ekologiese balans. FOTO PEXELS.COM

Elvira Hattingh -Terwyl die voorgestelde verbod op die invoer van jagtrofeë onlangs in die Verenigde Koninkryk (VK) vir eers skipbreuk gelei het, het die Namibië Beroepsjagtersvereniging (Napha) in sy jongste nuusbrief opnuut gereageer oor sy standpunt as dit by jagbedrywighede en volhoubare bewaring kom.

“Namibië se benadering tot die bestuur van wild is duidelik, strategies en ’n uitvloeisel van die Grondwet: Die prioritisering van volhoubare bewaring.

“Sentraal tot die strategie staan volhoubare jagbedrywe. Terwyl jagbedrywighede dikwels debatte internasionaal ontlok, is dit noodsaaklik om die logika en doelwit agter Namibië se benadering te verstaan.

“Wildprodukte wat verkry word met behulp van gereguleerde jagbedrywighede, skep ’n beduidende inkomste vir bewaringsaktiwiteite in die land. Dit is nie lukrake en ondeurdagte jag nie – dis ’n stelsel wat gebaseer word op data, ekologiese balanse en die welstand van wildbevolkings.

“’n Konkrete voorbeeld van hoe hierdie geld benut word, is die ondersteuning van wildbewaarders asook die perde-eenhede wat deur die Wildprodukte-trustfonds (GPTF) gefinansier word en toegespits is op teenstropingsoperasies.

“Hierdie eenhede is noodsaaklik in die stryd teen stropery, veral as dit kom by die beskerming van bedreigde wild, soos renosters. Die hartseer-realiteit is dat daar internasionaal ’n hoë vraag is na diereprodukte van wild wat gestroop is. Hierdie vraag – dikwels gedryf deur wanopvattings oor die produkte se “medisinale eienskappe” – bedreig die oorlewing van hierdie ikoniese spesies.

“Die uitdagings spruit egter nie slegs uit stropery nie. Sommige internasionale groepe staan trofeejag teen en sien nie die voordele raak wat voortvloei uit Namibië se goed gereguleerde jagstelsel. Ironies genoeg – as die manier van jag teengestaan word, sal die groepe dalk finansiering verminder wat vir bewarings- en teenstropingsaktiwiteite geoormerk is.

“Namibië se toewyding tot volhoubare jagbedrywighede gaan oor meer as ’n strategie om ’n inkomste te verdien. Dit is ’n wetlike verpligting, ’n onderneming om na die land en sy wild om te sien. “Deur die ondersteuning van volhoubare jagbedrywe, ondersteun Namibië plaaslike gemeenskappe, verseker dit ’n balans in wildgetalle en ondersteun dit wyer bewaringsdoelwitte.

“Opsommend kan gesê word dat dit nodig is om Namibië se bewaringsaktiwiteite in sy geheel in oënskou te neem. Volhoubare jagbedrywighede is ’n strategiese stap, wat deur die Grondwet asook ’n behoefte aan ’n ekologiese balans gedryf word.

“Die erkenning van die benadering is noodsaaklik, veral as die groter prentjie oorweeg word: Namibië se daadwerklike doelwitte om sy wild te beskerm, word gerig deur geldige beginsels en praktiese oorwegings.

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT