Ellanie Smit – Die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha) sê die trofeejag van probleemleeus bied ‘n praktiese oplossing vir die bestuur van komplekse uitdagings. Die verklaring van probleemleeus, veral onder die woestynaangepaste leeus, het die nuus gehaal nadat Desert Lions Human Relations Aid (Delhra) kommer uitgespreek het oor ‘n agtjarige mannetjie wat as ‘n probleemdier verklaar en vir trofeejag in die Palmfonteingebied in die Kunenestreek uitgesonder is. Die leeu het 14 bokke en ‘n Brahmaan-bul in Julie vanjaar gevang.

NAPHA sê die kwessie van die gebruik van leeus wat as probleemdiere verklaar is vir trofeejag in Namibië, lok uiteenlopende reaksie uit en sorg vir voortgesette debat.

“Aan die een kant maan diere-aktiviste teen die praktyk en sê dit bedreig beide leeubevolkings sowel as balans in die omgewing. Aan die ander kant sê die ministerie van omgewing, bosbou en toerisme die benadering dien as ’n pragmatiese oplossing vir mens-dier-konflik en in veral wanneer dit lewende hawe-boere raak.

“Dit is belangrik om te meld die term woestynleeu wat dikwels in hierdie debatte voorkom, is nie ’n wetenskaplike klassifikasie nie, maar is meer van ’n bemarkingsterm. Die ministerie meld daar is sowat 750 leeus in verskeie streke in Namibië wat daarop dui dat die opvatting dat hierdie leeus kritiek skaars is, misleidend kan wees,” sê Napha.

Volgens die ministerie word die kwessie van mens-dier-konflik nie ligtelik opgeneem nie, veral wanneer dit by lewende hawe-boere kom wat ’n beduidende ekonomiese las dra as gevolg van leeus wat as probleemdiere beskou word.

Voordat ’n leeu in aanmerking kom vir trofeejag, word ’n verskeidenheid maatreëls gevolg.

“Leeubewaarders probeer bv. om die konflik te bestuur deur verskeie strategieë in werking te stel om die leeus weg van die lewende hawe en bevolkte gebiede te hou. Slegs wanneer dié maatreëls misluk, word die leeu geklassifiseer as ’n probleemdier wat geskik is vir trofeejag.”

Napha wys ook daarop dat opbrengste uit hierdie trofeejagte verskeie doele dien.

“’n Gedeelte van die opbrengs gaan aan die Trustfonds vir Wildleweprodukte wat geoormerk is vir wildlewebewaring en inisiatiewe vir konflikbestuur.” Verdere fondse word toegeken aan gemeenskappe wat deur die betrokke leeus geraak word en ondersteun sodoende maatskaplike en ekonomiese opheffing. Laasgenoemde kan insluit belegging in die verbetering aan infrastruktuur om toekomstige konflik te vermy.

Volgens Napha is daar ook kommer oor wat sou gebeur indien die leeus nie op ’n beheerde manier bestuur word nie.

“Gefrustreerde boere kan kies om sonder om die nodige prosesse te volg, die leeus te vergiftig of dood te maak wat tot negatiewe uitkomste vir alle partye betrokke kan lei.”

In hierdie konteks sê die vereniging dien trofeejag as ’n gereguleerde alternatief om mens-dier-konflik te bestuur en bied dit ’n manier om die leeubevolking te bestuur, terwyl dit ook bewaringspogings finansier.

“Die balansering van die bewaring van wildlewe en menslike welsyn is sonder twyfel uitdagend. Terwyl wildlewetoerisme tot Namibië se ekonomie bydra, prioritiseer die regering met reg die welstand en veiligheid van sy inwoners.” Dit beteken beide ekologiese kommer en mense se lewensbestaan word respekteer.

Napha beklemtoon ’n veelvlakkige benadering verseker dat alle opsies oorweeg word en dat welke optrede ook al in die beste belang van beide menslike en wildlewegemeenskappe in die land is. – republikein@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT