Namibiër wil reservaat in suid-Angola uitbrei

Die kameelperde uit Namibië het goed in hul habitat aangepas. Foto Stefan van Wyk

Die bekende Namibiese sakeman en vlieënier Stefan van Wyk speel ’n belangrike rol in natuurbewaring in Angola waar hy die Cuatir- private natuurreservaat gevestig het.

Van Wyk wil die private natuurreservaat in die Cuando Cubango-provinsie in suidelike Angola na 200 000 hektaar uitbrei om ’n groot genoeg gebied vir grootwild, soos olifante en buffels, te voorsien.

Hy wil Cuatir – die enigste private natuurreservaat in Angola – in die grootste safaripark in privaat besit in Afrika omskep. Die reservaat is sowat 1 500 kilometer suid van die Angolese hoofstad Luanda tussen die Cuito- en Cubangorivier, geleë.

Dit is waar Van Wyk sy basis met ’n kampeergebied, ses chalets en ’n landingstrook gevestig het. Van Wyk het in 1995 Bush Pilots Namibia gestig.

Dit was juis toe hy oor die Cuatir-gebied in Desember 2012 met ’n Cessna Caravan-vliegtuig gevlieg het, dat Van Wyk die ongerepte stuk Afrika-wildernis uit die lug raakgesien het.

Van Wyk se liefde vir Angola en die natuur spruit uit sy kinderdae toe sy pa in die vroeë 70’s betrokke was by boerdery naby Lubango en Caraculo.

Hy het in 2020 begin om verskeie wildspesies, wat tydens die oorlog uitgewis is, uit Namibië in suidelike Angola te hervestig.

Hy sê sekere wildspesies, soos elande, sebras en koedoekoeie, moes hy ná die oorlog hervestig omdat hulle uitgeskiet is vir die soldate om te oorleef, maar die res van die wild het net vermeerder.

Sebras is ook uit Namibië in Cuatir hervestig. Foto Stefan van Wyk

“Die hervestigde kameelperde uit Namibië het goed in hul natuurlike habitat aangepas,” het Van Wyk gesê.

Van Wyk werk nou saam met die wetenskaplikes wat navorsing in die gebied doen oor die fauna en flora, veral onder meer bedreigde wildspesies. soos ietermago’s, jagluiperds en Afrika-wildehonde.

In Cuatir is 13 onafhanklike waarnemings van ten minste vyf jagluiperds deur middel van boskameras waargeneem.

Van Wyk beplan om ’n trop van 16 olifante van Namibië vanjaar na sy reservaat by die Cuatirrivier te verskuif.

“Die olifante sal van ’n private lodge in die noordweste van Namibië verskuif word waar daar volgens die eienaars te veel olifante is,” het hy gesê.

Daarom wil Van Wyk die reservaat van 20 000 hektaar met 180 000 hektaar vanjaar vergroot om die grootvoete te huisves.

“Die Cuatirrivier-gebied was in die Dorslandtrekkers se tyd die groot olifantjagvelde,” sê Van Wyk.

Wildveearts dr. Ulf Thubbesing van Wildlife Vets Namibia het die hervestiging van die wild na Angola hanteer.  – francoise@nmh.com.na

Toeriste geniet die ongerepte wildernis by Cuatir. Foto Stefan van Wyk

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT