Ellanie Smit – Die olifantbevolking in die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied (Kaza TFCA) word op 227 900 geraam, met 21 090 wat in Namibië is.

Dit volgens die langverwagte oorgrens-lugopname van die Kaza-olifante wat einde verlede week in Livingstone, Zambië, bekend gestel is.

Die verslag van 300 bladsye is verlede week vir die eerste keer beskikbaar gestel en toon dat daar 65 025 olifante in Zimbabwe is, 5 983 in Angola en 3 840 in Zambië.

Die opnameresultate het egter ’n hoë sterftesyfer van olifante met ’n verhouding van 10,4% van karkasse tot lewende olifante getoon. Altesaam 26 641 olifantkarkasse is ontdek.

Die opname is onderneem deur die vyf Kaza-lidlande – Angola, Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe – en met ondersteuning van WWF en ander vennote. Die adjunkminister van die omgewing, bosbou en toerisme, Heather Sibungo, het Namibië by die bekendstelling verteenwoordig.

Zambië se minister van toerisme en die voorsitter van Kaza, Rodney Sikumba, het gesê die eerste vlug vir die opname het in Augustus opgestyg.

Op 22 Augustus verlede jaar het die eerste twee vlugte in Zimbabwe opgestyg, wat die begin was van die lugkomponent van die opname.

Die vlugte is op 28 Oktober verlede jaar voltooi, wat gelei het tot altesaam 700 ure in die lug – versprei oor 68 dae waartydens data versamel is.

Hy het gesê die metodologie, skaal en omvang van die opname was die eerste van hul soort, met gekoördineerde vlugte wat byna 60% van die 520 000 vierkante kilometer van die Kaza-landskap dek.

Namibië beslaan sowat 14% van hierdie gebied.

Die ontleding van die data is in Maart vanjaar afgehandel, wat uitgeloop het op ’n omvattende tegniese verslag wat die implementeringsproses en uitkomste van die opname, wat in Mei vanjaar voltooi is, dokumenteer.

Na konsultasies met die African Elephant Specialist Group is ’n onafhanklike hersiening van die tegniese verslag onderneem deur drie vooraanstaande kundiges wat hul verslag by die Kaza-sekretariaat ingedien het.

Darren Potgieter, die opnamekoördineerder, het in sy aanbieding verduidelik hoewel vorige opnames in die verskillende lande gedoen is, het dit nie die beweging van olifante tussen die Kaza-lande verduidelik nie.

Hy het verder verduidelik na elke enkele vlug is gehalteversekering gedoen – wat ingesluit het hoe vlugte uitgevoer is.

Hy het ook gewys op die vlak van deursigtigheid en samewerking wat tussen die vennootlande gedoen is.

“Hierdie opnames word in die droë seisoen gedoen wanneer sigbaarheid beter is. Ons het daarin geslaag om die opname te voltooi voordat enige groot reënval enige bewegings van olifante kon ontwrig.”

Potgieter het wel gesê die hoë sterftesyfer onder olifante is kommerwekkend en kan as gevolg van veroudering, siekte, habitatverlies, droogte en stropery wees. Hy het egter bygevoeg die meeste van die karkasse wat gevind is, was dié van ou olifante.

“In die algemeen lyk die olifantbevolking stabiel. Daar is egter heterogeniteit in olifantbevolkingstendense regoor Kaza.”

Potgieter het gesê die opname strek oor 310 865 vierkante kilometre, 195 vlugte wat gemaak is deur, 47 veldpersoneel en 26 671 individuele waarnemings.

Hy het gesê die 2022 Kaza-olifantopname was ’n merkwaardige prestasie, aangesien dit die eerste keer was dat Afrika se grootste olifantbevolking in ’n enkele, ten volle gekoördineerde projek ondersoek is.

Baie meer ontledings kan op die data gedoen word, het die African Elephant Specialist Group gesê.

Sibungo het op haar beurt gesê sy kan nie wag om meer te wete te kom oor die bevindings in die verslag wat uiteindelik gerealiseer het nie.

Sy het gesê baie olifante in Kaza word buite beskermde gebiede gevind, waar hulle oeste en mense se lewensmiddele vernietig en om hulpbronne meeding.

“Mens-wild-konflik neem toe namate die populasie olifante ook toeneem. Ons het besluit om ’n aantal strategiese maatreëls te tref om dit te takel.”  – republikein@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT