Namibië beplan sesde Ramsar-vleiland

Sluit Boesmanland-panne in –  Vleilande verdwyn wêreldwyd drie keer vinniger as woude.

Ellanie Smit

Samesprekings is aan die gang om die Boesmanlandpanne, insluitend die Nyae Nyae-pan, as Namibië se sesde Ramsar-vleiland-gebied aan te wys.

Namibië het tans vyf van sy vleilande aangewys as vleilande van internasionale belang, algemeen bekend as Ramsar-gebiede.

Drie is aan die kus geleë – die Walvisbaai-vleilande, Sandvishawe-vleilande en die Oranjeriviermond. Twee is in die binneland – die Etosha-pan en die Bwabwata Okavango Ramsar-terrein.

Dit luidens ’n verklaring wat die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme uitgereik het.

In dié verklaring sê die ministerie ook dat Wêreldvleilande-dag Vrydag onder die tema “Vleilande en menslike welstand” gevier is om te beklemtoon dat vleilande welstand en geestesgesondheid bevorder.

Die vleilande verskaf water en kos en as vloedvlaktes goed toegegroei is, kan dit ook mense teen vloede beskerm.

“Vir die talle Namibiërs wat langs ons permanente riviere en tydelike oshanas woon, is hierdie vleilande noodsaaklik vir hul lewensbestaan, dit verskaf water vir hul vee en oeste, vis en waterleliebolle om te eet, ’n vervoermiddel en ook werk in vleiland-gebaseerde toerisme.”

Die ministerie het daarop gewys dat talle toeriste elke jaar die kus, Sossusvlei, die Etosha-panne, die Epupa-waterval en die Kavango- en Zambezistreke besoek om genot uit vleilande te put, hetsy vir voëlkyk, wildkyk, om hul skoonheid te ervaar of om te gaan hengel.

Kommer is egter uitgespreek dat vleilande wêreldwyd drie keer vinniger as woude verdwyn.

“In die afgelope eeu het meer as die helfte van alle vleilande verlore gegaan, baie is gedreineer of opgevul vir landbougrond en menslike nedersettings, en lewensbelangrike vloedvlaktes het verlore gegaan weens die kanalisering van riviere.”

Talle vleilande word steeds bedreig deur menslike aktiwiteite, soos die verlies aan habitat, die oorbenutting van vleilandhulpbronne, uitheemse plante, besoedeling en landbou-afloop wat plaagdoders, onkruiddoders en kunsmis bevat.

Daar is gesê in Windhoek beland die rommel wat in riviere gegooi word in die Swakoppoortdam wanneer dit reën, wat algebloei veroorsaak wat nie net die water sleg laat proe en ruik nie, maar ook baie duur is om te behandel.

“Ons moet almal aktief betrokke raak by die bewaring van ons gesonde vleilande en die herstel van die vleilande wat beskadig is.”

Namibië herdenk vanjaar gesamentlik Wêreldvleilande-dag en Wêreldwaterdag in Opuwo vanaf 4 tot 7 Maart, waar agt skole op Opuwo saam met studente wat vleiland- en waterkwessies studeer op ’n uitstappie in die Kunenestreek gaan om vleilande te besoek en self te sien hoekom vleilande belangrik is.

republikein@republikein.com.na

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT