Ollie se raamwerk voor die beeldhouwerk begin het. Foto Coenraad Louw

Tielman Van Lill – Uis gaan binnekort met sy eie lewensgrootte olifant spog. En nee, dié ollie sal nie sy eie koers kan inslaan om saam met die res van die woestynolifante in die Ugabrivier te kan baljaar nie. Ollie sal sy laaste staan in dié dorp op private grond kry waar dit wel op ’n veilige afstand deur die publiek besigtig sal kan word.

Die beeldhoukunstenaar, Coenraad Louw, het tong-in-die-kies aan Republikein gesê: “Die mense se lemoen-, naartjie- en ander vrugtebome sal veilig met Ollie op Uis wees.

“Uiteraard was die projek onlangs nog in sy babaskoene, maar soos op die foto gesien kan word, is Ollie se skelet al in ’n gevorderde stadium. Ek het vandeesweek met die beeldhouwerk begin.

“Dit is in die laaste stadium wanneer Ollie sy vel, lyf, kop, tande en slurp gaan kry. Dan sal die outjie pure olifant wees.

“Nadat ek in Maart deur die kliënt, Stefan Klein, met sy idee genader is, het baie water in die see geloop. Ná baie nagte se wakker lê, beplanning, sketse en koukus met my kliënt, het ek uiteidelik die groen lig van hom gekry om voort te gaan,” het Coenraad gesê.

Die olifantbeeld sal na verwagting teen middel November voltooi wees. Foto Coenraad Louw

“Ollie sal eers behoorlik in die aarde geanker moet word voor ek met die beeldhouwerk kan voortgaan. Die skelet weeg klaar ongeveer 500 kilogram. En sy ‘vel’ kan die paar honderd kilogram tot 1 500 kg of meer opstoot. Dus is dit belangrik om seker te maak dat Ollie sy staan stewig kry alvorens ek hom met die ingewikkelde mengsel van sement en ander materiale sy gestalte kan gee.

“Dit gaan van plek tot plek verskil, maar ek reken Ollie se ‘vel’ kan tussen 2,5 sentimeter tot vyf sentimeter dik wees. Om die lyf en bene te vorm is die eenvoudigste deel van die beeldhouproses. Die kop en ore is die ingewikkeldste met die oë en tande wat ook geskep moet word,” verduidelik hy.

NATUURLIKE ELEMENTE

“Die mense al seker wil weet hoe groot die standbeeld gaan wees. Wel, Ollie se rug sal drie meter van die grond af wees. Nou kan die mense ’n idee van dié bulletjie se grootte en omvang vorm.

“Met die oosweer het ek dit nie maklik gehad nie. Die ooswind het hier mure omgewaai en werk was onmoontlik. As ek in ’n werkswinkel kon werk, was dit ’n beheerde omgewing en die beeld sou al klaar gewees het. Ek wil graag vir Ollie middel November aan Stefan oorhandig en met rus laat,” het die kunstenaar verduidelik. – tielman@republikein.com.na

Ollie het vandeesweek gestalte begin kry. Foto Coenraad Louw

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT