Die woestynaangepaste swartmaanhaar-leeumannetjie Mwezi. Foto Ingrid Mandt

“Op 10 Oktober is ’n sewe- of agtjarige leeumannetjie in die Palmwag-omgewing van die Kunenestreek as ’n probleemdier verklaar en ingevolge ons wette en riglyne geskiet omdat hy herhaaldelik vee doodgemaak het,” lui die verklaring.

Die ministerie voer aan diereregtegroepe gebruik die voorval om vals gerugte te versprei oor die ministerie en sy vermoë om mens-dier-konflik te bestuur.

“Die ministerie neem met kommer kennis dat daar individue en groepe is wat poog om Namibië se bewaringspraktyke – soos geïmplementeer deur die ministerie en sy belanghebbendes – te diskrediteer. Sulke mense gaan voort om ongegronde gerugte te versprei wat daarop gemik is om ons land se beeld rakende ons wildbestuur en -benutting te skend.”

KONFLIK

Die leeu het glo in Julie vanjaar 14 bokke doodgemaak en later ’n Brahmanbul in die Palmwag-omgewing. Mwezi is toe met ’n halsband toegerus wat dit vir die ministerie makliker gemaak het om sy bewegings te monitor.

“Die Lion Rangers het verskeie maatreëls getref om die konflik te stop, maar dit was tevergeefs. Ten spyte van die teenwoordigheid van wild in die gebied het die leeu voortgegaan om op vee jag te maak.”

Volgens die ministerie is Mwezi as ’n probleemdier verklaar en geskiet. Gevolglik sal N$20 000 wat uit die jagtog gegenereer is, in die Wildproduktefonds inbetaal word, wat weer aangewend sal word vir wildbewaring en die bestuur van mens-dier-konflik.

“Die Ehirovipuka- en die ≠Khoadi-//Hôas -bewaringsgebied sal altesaam N$300 000 aan die geaffekteerde gemeenskappe betaal,” het Romeo Muyunda, die ministeriewoordvoerder, gesê.

“Namibië is verbind tot bewaringsmetodes wat aangepas is vir ons situasie en tot voordeel van ons mense in ooreenstemming met grondwetlike bepalings. Hierdie metodes is as doeltreffend bewys en het beduidende resultate opgelewer in die vorm van ’n toename in- en herstel van wildbevolkings. Gevolglik het gevalle van mens-dier-konflik toegeneem.”

MENSE SE BEHOEFTES EERSTE

Bewaringsukses word dus aangevuur deur die feit dat gemeenskapslede aanvaar het hulle moet met roofdiere – wat soms hul eiendom beskadig – saamleef, sê die ministerie.

“Teen hierdie agtergrond kan ons nie bekostig om die lot van boere mis te kyk om diereregtegroepe se emosies te beskerm nie. Terwyl ons toerisme as ’n bedryf waardeer vir die inkomste wat dit genereer, sal ons as ’n verantwoordelike regering altyd die behoeftes van ons mense eerste stel.”

Die ministerie het daarop gewys dat leeus volop in die noorde van Namibië en in sommige dele van die land voorkom.

“Ons leeubevolking word op 700 geskat. Hiervan is 450 in die Etosha Nasionale Park, ongeveer 60 in die Kunenestreek en dele van die Erongostreek, 60 in die Khaudum Nasionale Park en omliggende gebiede van die Kavango-Oosstreek en die Otjozodjupastreek, 60 in die Zambezistreek en ongeveer 60 op sommige kommersiële plase.”

Die ministerie sê die leeus waarna gewoonlik as woestynleeus verwys word, behoort aan dieselfde spesie wat elders in die land voorkom.

“Streng gesproke is die term ‘woestynleeus’ ’n bemarkingsfoefie wat die indruk skep dat hierdie leeus bedreig is of die risiko loop om uit te sterf. Hierdie leeus is nie bedreig nie – inteendeel, hulle getalle het tot die hoogste vlak in minstens ’n halfeeu toegeneem,” verduidelik Muyunda.

Die ministerie het ’n beroep op alle toeriste, besoekers en Namibiërs gedoen om die “propaganda teen Namibië, wat geen ander doel dien as om bewaringspogings te diskrediteer nie”, te ignoreer.
republikein@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT