Ellanie Smit- Die fragmentering en isolasie van wildhabitatte is in die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied (Kaza TFCA) opgemerk as gevolg van menslike indringing en vee-aktiwiteite.

Dit volgens die uitslae van die Kaza-olifantopname, wat ook bevolkingskattings vir ander spesies soos buffels, kameelperde, hartebeeste, seekoeie, rooibokke, swartwitpense, wildebeeste en sebras opgelewer het.

Dit is belangrik dat skattings van mak veekuddes ’n verhouding van wild tot vee wat gelykheid nader, weerspieël, luidens die opnameverslag.

“Die verhouding van 1,16 wilde diere tot een mak dier verskaf ’n belangrike maatstaf van die relatiewe oorvloed van wilde en mak diere in die streek.”

Die opname het die groeiende druk op waterbronne en weiding beklemtoon asook die belangrikheid van maatreëls om geïntegreerde beplanning van grondgebruik, naasbestaan en kruissektorale beleidsharmonisering te bevorder.

Dit het die Kaza-olifantbevolking op 227 900 geraam, terwyl 535 826 veekoppe waargeneem is.

Die opname is tussen Augustus en Oktober 2022 deur die vyf Kaza-vennootlande – Angola, Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe – onderneem en het sowat N$59 miljoen gekos.

SEGREGASIE

Die verspreiding van olifante met betrekking tot beeste en menslike nedersettings het ’n patroon van ruimtelike segregasie tussen olifante en die teenwoordigheid van mense en vee aan die lig gebring, luidens die verslag.

“Hierdie fragmentering en isolasie van wildhabitatte beïnvloed die konnektiwiteit en mobiliteit van wildbevolkings en kan ’n noemenswaardige impak op die veerkragtigheid van die ekosisteem hê, wat dit meer kwesbaar maak vir versteurings en minder in staat tot aanpassing by veranderende klimaatstoestande.”

Syfers toon daar is veral hoë druk in die sentrale Zambezistreek van Namibië, wat die Kwando- en Zambezi-Chobe-wildbewegingsgebiede insluit.

Hierdie gebiede is glo van kritieke belang vir wildbeweging en -migrasie.

In Namibië, wat ongeveer 21 090 van Kaza se olifante huisves, is 171 860 stuks vee waargeneem, waarvan die meerderheid beeste was.

Hierdie uitslae kan natuurbewaarders en beleidskeppers help om gebiede te identifiseer waar menslike aktiwiteit en veedruk toeneem en om toepaslike maatreëls te tref om die impak op wildhabitatte te versag, het die verslag gesê.

SAMEWERKING

“Dit sal samewerking van alle belanghebbendes vereis – insluitend plaaslike gemeenskappe, regerings en bewaringsorganisasies – om te verseker dat die Kaza TFCA ’n noodsaaklike vesting vir wild en ’n bron van lewensbestaan vir plaaslike gemeenskappe bly.”

Die vennootstate het die Kaza-sekretariaat opdrag gegee om pogings tot die ontwikkeling van ’n gedetailleerde oorgrens-aksieplan te koördineer, wat by ’n reeds bestaande strategiese beplanningsraamwerk vir die bewaring en bestuur van olifante gevoeg sal word.  – republikein@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT