Trofeejagstatistieke bekend gemaak
Die meerderheid trofeejagkliënte was van Duitsland (1 101), gevolg deur die Verenigde State van Amerika (662).
Yandi Du Plessis
 
Ellanie Smit – Altesaam 3 152 kliënte van 52 lande het Namibië vir trofeejagdoeleindes in 2022 besoek.

Dit is volgens Chantal Louw van die direktoraat van wetenskaplike dienste by die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme.

Sy het verlede jaar se trofeejagstatistieke tydens die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha) se algemene jaarvergadering, wat verlede week in Windhoek gehou is, voorgelê.

Louw het gesê trofeejag is aan die toeneem in Namibië namate ander toerismesektore ná Covid-19 herstel.

Volgens haar het baie trofeejagoperateurs ook ’n agterstand van bespreekte jagtogte gehad van voor Covid-19 wat gedurende die 2022-jagjaar plaasgevind het.

DUITSERS, GEMSBOKKE BOAAN LYS

Die meerderheid trofeejagkliënte was van Duitsland (1 101), gevolg deur die Verenigde State van Amerika (662).

Afrika-kliënte sluit dié van Suid-Afrika, Mauritius en die eiland Réunion in, terwyl nuwe besoekers van Paraguay en Tadjikistan was.

Volgens Louw is altesaam 239 meesterjaggidse in 2022 geregistreer, terwyl 202 professionele jagters, 84 professionele grootwildjagters en 83 jaggidse geregistreer is.

Sy het verder opgemerk die spesie wat verlede jaar die meeste vir trofees gejag is, was gemsbokke (2 192), gevolg deur springbokke (1 553), gewone rooibokke (1 224), vlakvarke (1 182) en koedoes (980).

Volgens die gemiddelde prys per spesie, met betrekking tot dié wat die meeste gejag is, behaal ’n koedoe die hoogste prys op N$44 400.

Die eland kom tweede op N$40 300 en dan daal pryse na N$21 600 vir ’n Hartmann-bergsebra, N$21 595 vir ’n Burchell-sebra en N$18 684 vir ’n blouwildebees.

Louw het ook statistieke verskaf oor gevaarlike wild wat verlede jaar vir trofees gejag is en wat 125 buffels, 55 olifante, 33 seekoeie, 19 krokodille, 15 witrenosters en ses leeus insluit.

Gemiddelde pryse per spesie vir gevaarlike wild dui daarop dat olifante met sowat N$4 miljoen die topposisie inneem, gevolg deur witrenosters teen N$3,5 miljoen, leeus teen N$3,1 miljoen, buffels teen sowat N$2 miljoen en krokodille teen N$1,15 miljoen.

ROOFDIERE

Verder het die roofdiere wat verlede jaar vir trofees gejag is 237 jakkalse, 125 luiperds, 55 jagluiperds, 54 bruin hiënas en 35 rooikatte asook 14 gevlekte hiënas ingesluit.

Hier was luiperds boaan die lys met N$2,1 miljoen vir gemiddelde prys per spesie, gevolg deur sowat N$1 miljoen vir jagluiperds, N$46 300 vir gevlekte hiënas, N$30 500 vir bruin hiënas en N$15 600 vir rooikatte.

Intussen, met betrekking tot hoëwaarde-trofeejagspesies, was die bastergemsbok boaan die lys met betrekking tot gemiddelde prys per spesie op N$13,1 miljoen, met 40 wat gejag is.

Daarbenewens is altesaam 172 swartwitpense gejag en het ’n prys van N$1,18 miljoen per dier behaal.
 
republikein@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT