Lewer sowat 56 000 kilogram vleis
 
Ellanie Smit
 
Altesaam 262 van die 723 wilde diere wat geïdentifiseer is om wildsvleis vir droogtehulppogings by te dra, is reeds van kant gemaak en het meer as 56 000 kilogram vleis gelewer.

Die meer as 700 diere wat van kant gemaak gaan word, sluit 300 sebras, 100 elande, 100 blouwildebeeste, 83 olifante, 60 buffels, 50 rooibokke en 30 seekoeie in.

Die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, Romeo Muyunda, het dit bevestig en gesê die ministerie – met die goedkeuring van die kabinet – dra wildsvleis by om die regering se droogtehulpprogram te ondersteun. Die diere kom hoofsaaklik van die nasionale parke Namib-Naukluft, Mangetti, Bwabwata, Mudumu en Nkasa Rupara.

Hy sê die nasionale konferensie oor die bestuur van mens-dier-konflik in 2023 het onder meer besluit dat olifantgetalle gesny moet word om voorvalle van mens-dier-konflik te help verminder.

“Met die erge droogtesituasie in die land, sal konflik na verwagting toeneem indien geen ingrypings bewerkstellig word nie,” het Muyunda gesê.

In dié verband sal 83 olifante uit geïdentifiseerde konflikgebiede van kant gemaak word en die vleis sal aan die droogtehulpprogram onder die kantoor van die eerste minister toegewys word.

Olifante wat uitgedun gaan word, sluit 12 van die Kamanjab- en Fransfontein-gebiede in die Kunenestreek in asook vier van Kalkveld, agt van die Grootfontein-omgewing in Otjozondjupa en vyf van Omatjete in Erongo.

Verder sal tien olifante van Ruacana, Tsandi en Okahao in Omusati, drie uit gebiede in Oshana en twee van Oshikoto van kant gemaak word. Altesaam sewe olifante sal in Kavango-Wes en twee in Kavango-Oos van kant gemaak word.

Muyunda het gesê 30 olifante sal in die Zambezistreek van kant gemaak word, terwyl ’n bykomende tien elk uit die noordelike en suidelike gebiede van Mudumu verkry sal word.

Professionele jagters en safarimaatskappye wat deur die ministerie en bewaringsgebied gekontrakteer is, sal die uitdunning behartig.

Tot op hede is 157 diere van verskeie spesies in die Mangetti Nasionale Park gejag, terwyl 105 in ander gebiede, insluitend Mahango en Kwando, gejag is, wat 56 875 kilogram vleis gelewer het.

“Die uitdunning help om die negatiewe impak van die droogte op wildbewaring in beide ons nasionale parke en kommunale gebiede te verminder. Daar is geen twyfel dat die droogte die meeste bewaringsektore raak nie,” het Muyunda gesê.

Volgens hom sal die uitdunning van wild ook help met die bestuur van die huidige druk op weiding asook die beskikbaarheid van water deur wildgetalle in sommige parke en kommunale gebiede te verminder waar die ministerie voel die getalle oorskry beskikbare weiding en water.

Die voorsiening van vleis verbeter mense se voeding en dra by tot die vermindering van armoede, het Munyunda gesê.

“Dit is bykomend tot ander deurlopende ekonomiese voordele soos werkskepping en die generering van inkomste wat deur die bewaring van wildspesies en verwante sektore soos toerisme bevorder word.”

republikein@republikein.com.na

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT