Tanja Bause. Claudia Reiter – Vier spanne bestaande uit 45 opgeleide wetenskaplikes het van 6 November 2022 tot 6 Januarie 2023 duisende kilometers in die Kunenestreek afgelê om die volwasse wilde leeus in die gebied op te spoor en individueel te identifiseer. Volgens Conservation Namibia het die span bestaan uit personeel van die ministerie van omgewing, bosbou en toerisme (MEFT) in samewerking met die Lion Rangers, die Namibian Lion Trust, asook veldpersoneel van Geïntegreerde Landelike Ontwikkeling en Natuurbewaring (IRDNC).

Die bevolkingsopname is ontwerp deur navorsers in oorleg met MEFT-personeel en het sterk staatgemaak op die kundigheid van leeubewaarders en ander plaaslike natuurbewaarders. Volgens Conservation Namibia het die opname gefokus op ‘n gebied van 41 000 km2. Die gebied, bekend vir sy leeus, sluit 11 kommunale bewaringsgebiede (Anabeb, Doro ! Nawas, Ehi-rovipuka, ǂKhoadi-ǁHoas, Omatendeka, Orupupa, Puros, Sesfontein, Sorris Sorris, Torra en Tsiseb), drie toerismekonsessies (Etendeka , Hobatere en Palmwag) en die Skedelkus Nasionale Park vanaf die Hoarusibrivier in die Noorde tot by die Huabrivier in die Suide in.

Spanne het staatgemaak op bewegingsdata van die halsbande wat die leeus dra om te verseker alle gebiede is gedek waar die leeus woon. Tans is daar 47 leeus met werkende satelliethalsbande in die Kunene-omgewing.

“Elke keer as ‘n span leeus gevind het, het hulle probeer om elke volwasse leeu uniek te identifiseer op grond van die patrone van kolle onder hul snorbaarde. Die kolle, sigbaar onder die snorbaarde aan beide kante van die leeu se gesig, is uniek aan elke individu en bly onveranderd deur ‘n leeu se volwasse lewe,” het Conservation Namibia gesê.

Deur hoëprestasie lense en digitale kameras te gebruik, kon die spanne hoë gehalte foto’s van albei kante van die leeus se gesigte neem en waarin die patrone duidelik sigbaar was.

“Die foto’s saam met elke leeu se beskikbare lewensgeskiedenis, word gebruik om individuele identifikasiekaarte (ID) vir elke leeu te skep. Die ID-kaarte sal aan leeubewaarders en navorsers uitgedeel word sodat die betrokkenes die leeus in hul gebiede beter kan monitor.”

Ná noukeurige ontleding van die ingesamelde data het die finale skatting op 57 tot 60 volwasse leeus en 14 welpies onder een jaar te staan gekom. Die skatting is dus ongeveer 45 tot 60% laer as vorige skattings.

“Teen 0,11 leeus per 100 km2 is leeudigtheid in Kunene die laagste wat vir stabiele wilde leeubevolkings in Afrika aangeteken is. Dit is te verwagte aangesien droë en semi-droë omgewings minder prooispesies ondersteun as natter dele van die vasteland.”

’n Belangrike bevinding is dat die leeubevolking blyk om gesond te wees en gestabiliseer het ná oënskynlike onlangse afnames. Die assessering is nie net gebaseer op die aantal individue nie, maar ook op die relatief goeie fisiese toestand van alle geïdentifiseerde individue en op die geslagsverhouding van die bevolking en wel 36 wyfies tot 21 mannetjies.

“Terwyl die leeubevolking gesond is, staar dit steeds verskeie bedreigings vir sy langtermyn-oorlewing in die gesig wat voortdurend aangespreek moet word. Mens-leeu-konflik bly die hoofoorsaak van volwasse leeuvrektes in die streek. Onlangse sosiale opnames onder plaaslike inwoners toon dat verdraagsaamheid om saam met leeus te leef, laag is.

Plaaslike inwoners se verdraagsaamheid om hul lewens met leeus te deel, moet verbeter word om mens-leeu-konflikte te beperk. Namibië se toerismebedryf kan ’n rol hierin speel deur by te dra tot landelike lewensbestaan en te wys dat hoë internasionale belangstelling in Namibië se leeus ook die mense wat daar woon kan bevoordeel.” – republikein@republikein.com.na

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT