OMGEWINGSBEWARING: The Ocean Conversation Namibia het onlangs hul afkeur uitgespreek oor die jaarlikse robbeoes wat sal meebring dat 86 000 robbe doodgemaak word. Foto bygedra

Nikanor Nangolo – “Ons sien vreeslik op teen hierdie tyd van die jaar. Oor die afgelope jare het ons sleepmerke vol bloed by Kaap Kruis gesien. Gewonde robbe, bang diere. Ons het dae deurgebring om hulle te probeer red, en hulle kon dalk die volgende dag doodgeslaan of geskiet word. As hulle nie met rommel doodgemaak word nie, word hulle met knuppels en gewere doodgemaak,” het die bewaringsorganisasie Ocean Conversation Namibia (OCN) in ’n nuusbrief geskryf.

Dit volg op die onlangse aankondiging deur die ministerie van visserye en mariene hulpbronne oor ’n kwota om 80 000 Kaapse pelsrobwelpies en 6 000 bulle vanjaar te oes.

Volgens die ministerie staan die robbevolking tans op 1,6 miljoen en bestaan uit 26 kolonies. Hulle vreet na raming 2 miljoen ton vis per jaar.

“As jy robbevolkings laat groei, sal hulle inderdaad kommersiële hoeveelhede vis verbruik. Die bevolking moet op ’n vlak gehou word wat die ekosisteem kan ondersteun,” het Romeo Muyunda, die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, gesê.

Die OCN, ’n private inisiatief wat hom vir die redding van robbe beywer deur dié te bevry wat in seerommel soos nette verstrengel word, het gesê die jaarlikse robbe-oes is hoogs omstrede, hoofsaaklik as gevolg van die manier hoe jong robbe op die sagte deel van die agterkop doodgeslaan word.

’Om robwelpies met ’n knuppel dood te slaan, is argaïes en moet verbied word; geen verdere bespreking nie. Robbe kry verkeerdelik die skuld vir visvoorrade wat uitgeput word. Terwyl robbe tot 10% van hul liggaamsgewig per dag kan vreet, eet hulle hoofsaaklik vis wat nie kommersieel verbruik word nie. Daar is een rede waarom visvoorrade afneem, naamlik oorbevissing. Ons moet viskwotas en wanbestuur verminder om volhoubare visvangpraktyke te bereik.”

Die OCN het opgemerk dat hulle verstaan dat lande soos Namibië op hulpbronne moet kapitaliseer.

“Dit is egter oneties om 6 000 gesonde prima alfa-robbulle vir hul geslagsdele dood te maak. Daar bestaan geen ekonomiese vraag na dooie robwelpies nie. Hulle het baie min vleis, wat ongewild lyk vir verbruiksdoeleindes, en baie min vet vir die produksie van omega-robolie. Oor die afgelope jare is baie min robwelpies geoes en ons verwag dieselfde vir 2023. Vir ons bulle is daar geen goeie nuus nie. Die vraag na diere se geslagsorgane groei, en daar is versoeke van die robbedryf om die kwota te verhoog. Gelukkig bring hulle die grootste deel van hul jaar in die see of by ontoeganklike robkolonies deur, ver weg van mense en wapens.

“In die skadu van hierdie verskriklike kwota van 86 000 robbe, lyk ons klein getal van 181 robbe vir die maand wat van nette bevry is, onbelangrik. Junie was ons suksesvolste maand sedert ons begin het om robbe te red. Dit maak ons seer om te dink dat sommige van hulle dalk nie die oesseisoen gaan oorleef nie.” – republikein@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT