Slegs een koedoe mag per jagter in die jagseisoen gejag word. Foto Ulrich Bezuidenhoudt

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het die 2024-jagseisoen ingevolge die Natuurbewaringsordonnansie van 1975 afgekondig.

In geregistreerde bewaringsgebiede en op kommersiële plase van 1 000 hektaar en groter met wildwerende omheinings, kan daar van 1 Mei tot 31 Augustus met permitte gejag word. Op plase met gewone omheining, kan vanaf 1 Junie tot 31 Julie gejag word.

Jagpermitte sal uitsluitlik aan plaaseienaars-, huurders en die komitees van goedgekeurde en geregistreerde bewaringsgebiede uitgereik word en nie aan die jagter self nie. Versuim om aan die jagregulasies gehoor te gee is ’n strafbare oortreding en mag ook lei tot ministeriële weiering om verdere permitte aan die betrokke party uit te reik.

Jagpermitte mag nie gebruik word om trofeë oor die landsgrense te neem nie. Dié uitvoer mag slegs met die vooraf goedkeuring van die ministerie plaasvind.

Die beperking op jagbare wild vir ’n enkele jagter is drie groot wildsoorte of twee groot wildsoorte en vier klein wildsoorte of een groot wildsoort en agt klein wildsoorte of 12 klein wildsoorte.

Grootwildsoorte is koedoes en gemsbokke terwyl springbokke en vlakvarke as klein wildsoorte geklassifiseer word.

Slegs een koedoe mag per persoon tydens die jagseisoen gejag word.

Die invoer van jaggewere vir jagbare wild en haelgewere vir jagbare voëls sal slegs toegelaat word met bewys van die geskrewe uitnodiging van die instansie waar die jag sal plaasvind.

Die Namibiese polisie sal geen invoer van enige outomatiese vuurwapen of handwapen deur besoekende jagters toelaat nie en dié vuurwapens mag nie vir jagdoeleindes gebruik word nie.

Dit is die verantwoordelikheid van die plaaseienaar, -huurder of komitee om die uitnodiging aan die besoekende jagter te besorg. Geen permit sal direk aan die jagter uitgereik word nie.

Die jagpermitfooi beloop N$100 per permit.

Jagpermitte kan tydens kantoorure by die streekkantore of in Windhoek by die permitkantoor in die direktoraat van wetenskaplike dienste van die ministerie afgehaal word.

Vir verdere navrae kan die kantoor van die direktoraat van wildlewe en nasionale parke by 061 284 2518 of die permitkantoor by 061 284 2541/284 2820 gekontak word. – francoise@nmh-hub.com.na

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT