My gedagtes dwaal ‘n hele paar dekades terug. Ek onthou hoe ek as jong meisie verstaan het jagseisoen beteken biltong en droëwors. Dit beteken ook dat een van die slaapkamers in ons huis in ‘n biltongdroogkamer sou verander vir ‘n paar maande. My Pa het draadlyne gespan en daar was ‘n staanwaaier in die een hoek. Soos die jagseisoen vorder het die lyne vol biltong en droëwors begin hang. Tot ons Staffie, Thor, het sy eie lyn gehad.
Teen die einde van die jagseisoen het my Pa gesê ons moet biltong en droëwors gaan uitdeel aan die onnies by die skool want “mens kan net soveel biltong eet”. As gebore entrepreneur het ek dit gaan verkoop aan die onnies, sonder my Pa se wete. Biltongjag was iets waarmee ek grootgeword het.
Soms, wanneer iemand ‘n mooi bok platgetrek het, sou ‘n paar horings sy verskyning maak in die motorhuis. Maar ons was nie trofeëjagters nie. My eerste kennismaking met trofeëjag was toe ek my man, Chris, ontmoet het. “Lief, ek het so paar trofeës om op te hang”, was sy woorde aan my toe ons saam intrek. Ek onthou die aand na werk toe ek by die voordeur instap en ‘n Zebrahings my op sy agterpote in die gang ingewag het. Daar was ook ‘n prag Koedoe en ‘n klompie ander bokke wat nie die vorige dag in ons woonkamer was nie. Die volgende week het ‘n kameelperd sy verskyning gemaak, wat nogal ‘n konsternasie veroorsaak het om in te pas in ‘n gewone Moreletaparkhuis se woonkamer. Die braai area het ook ‘n paar varkies bygekry. Ek het my voet neergsit toe ek ‘n foto van ‘n oopbek-bobbejaan op ‘n stomp gewys word wat “nog by die taxidermie gestoor word.” Daai ding kom nie in my huis nie!