Yandi Du Plessis

Ellanie Smit – DNS-data van ietermago’s in Namibië word tans ingesamel, wat sal help om smokkelroetes te identifiseer en die omvang van die internasionale onwettige handel in ietermagospesies vas te stel.

Volgens die 2022-verslag oor wildbeskerming en wetstoepassing in Namibië is dit onbekend hoeveel ietermago’s suksesvol uit Namibië gesmokkel is.

Daarvolgens dui die huidige beskikbare inligting daarop dat die verhouding laag is, maar meer navorsing is nodig. Dit sluit in die opsporing van die oorsprong van ietermagoprodukte en verwante handelsroetes deur middel van DNS-ontledings van ietermago’s en ietermagoprodukte in bron-, transito- en uiteindelike verbruikerslande.

“DNS-data word in Namibië ingesamel om dit moontlik te maak, maar moet ooreenstem met data van transito- en eindmarklande om die teenwoordigheid en omvang van internasionale handel vas te stel.”

Luidens die verslag is ’n internasionale inisiatief om sulke ontledings te fasiliteer tans aan die gang.

Dit sê verder ietermago’s is tans tweede agter renosters as die mees geteikende hoëwaarde spesie in Namibië in terme van die aantal gevalle wat in 2022 aangeteken is.

Uit die 175 wildmisdaadsake vir spesies van hoë waarde wat in 2022 geregistreer is, het altesaam 36 gevalle met ietermago’s verband gehou.

Volgens die verslag bestaan arrestasies en beslagleggings feitlik slegs uit gevalle waar produkte aangebied word aan geheime wetstoepassers wat hulle as kopers voordoen.

“Daar word baie selde in ander omstandighede, soos doeane-soektogte by grensposte, op ietermagoprodukte beslag gelê.”

Statistieke toon dat 57 verdagtes verlede jaar in verband met ietermagoverwante misdade in hegtenis geneem is, waarvan 11 skuldig bevind is, terwyl daar beslag gelê is op 12 lewende ietermago’s, 28 dooie ietermago’s en 873 ietermagoskubbe.

Volgens die verslag het beslagleggings in dié verband aansienlik gedurende 2022 afgeneem – 54% laer as in 2021 en 69,2% laer as die spitstyd in 2019.

In 2021 is 66 beslagleggings gemaak – lewende en dooie ietermago’s ingereken – en in 2019 was daar altesaam 79 beslagleggings.

Luidens die verslag maak lewende diere ’n aansienlike deel van ietermago-beslagleggings uit – in sommige jare byna 40%.

“Terwyl daar aanvanklik geglo is dat die meerderheid ietermago’s waarop lewend beslag gelê is, veilig terug in die natuur vrygelaat kan word, het monitoring ná vrylating getoon dat die rehabilitasie van ietermago’s ingewikkeld is en sterftes baie hoog kan wees – tot meer as 50% in harde vrylatings. Laasgenoemde is waar geen rehabilitasie gedoen word voor vrylating nie.”

Die verslag sê hoewel presiese sterftesyfers tans nie beskikbaar is nie as gevolg van foute met moniteringsplaatjies en ander beperkende faktore, het dit duidelik geword dat meer versigtige rehabilitasie geprioritiseer moet word om beter oorlewingsyfers moontlik te maak.

Vrylatingsprotokolle vir lewende ietermago’s word verbeter deur opleiding van wetstoepassers en veeartsenykundiges, die formulering van gesondheidsbeoordelingsriglyne voor vrylating, die stigting van ’n noodfonds om die vinnige assessering en behandeling van diere waarop beslag gelê is te fasiliteer, en die voorsiening van plaatjies om die diere ná hul vrylating te monitor.

republikein@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT