Die Kaapse aasvoël-kuiken met die naam Phoenix. Foto Argief

Hoërhof lewer uitspraak -Die voëls sluit in ‘n Kaapse aasvoël-kuiken en sy ouers, twee roofarende, ‘n bateleurarend, ‘n Afrika-grootjagarend, ‘n reuseooruil en ‘n gevlekte ooruil.

Kristien Kruger

Die N/a’an ku sê-stigting is nou die permanente tuiste van nege bedreigde roofvoëls ingevolge ’n beslissing van die Windhoekse hoërhof dat die voëls in hul sorg moet bly.

Dit volg nadat N/a’an ku sê op 18 Julie 2022 ’n dringende aansoek teen die ministerie van omgewing, bosbou en toerisme ingedien het met die versoek dat die voëls vanaf die Rare and Endangered Species Trust (Rest) na die stigting se wildreservaat geneem en daar versorg word.

Rest het in Oktober verlede jaar toegemaak en wou die voëls aan N/a’an ku sê skenk, maar die stigting kon na bewering nie die vereiste permitte van die ministerie verkry om die voëls te vervoer en aan te hou nie.

Die hoërhof in Windhoek het beslis dat nege bedreigde roofvoël in die N/a’an ku sê-stigting se sorg mag bly. Foto Argief

Die ministerie het die dringende aansoek teengestaan, maar regter George Coleman het in Julie ’n hofbevel uitgereik dat die voëls na N/a’an ku sê vervoer mag word en daar kan bly totdat die hof uitspraak in die saak lewer.

In sy uitspraak Donderdag het Coleman finaal beslis dat die voëls in N/a’an ku sê se sorg mag bly.

“N/a’an ku sê se primêre rede vir hierdie hofaansoek was om te verhoed dat dieremishandeling met betrekking tot hierdie voëls plaasvind – of dit nou fisieke of sielkundige skade is,” het N/a’an ku sê in ’n onlangse mediaverklaring gesê.

Die minister, mnr. Pohamba Shifeta, het in sy geskrewe betoë voor uitspraak gesê die natuur moet eerder sy gang gaan.

“Die natuur reguleer homself wanneer dit by siek of beseerde diere kom. Dis die ‘sirkel van die lewe’. Beseerde of kreupel voëls dien geen opvoeding- of bewaringswaarde nie.”

PHOENIX EN KIE

Toe hierdie hofsaak begin het, het die Kaapse aasvoël-broeipaar wat by Rest aangehou was, een eier gehad wat intussen uitgebroei het. Die nege roofvoëls sluit daarom ’n Kaapse aasvoël-kuiken in, met die naam Phoenix.

Die Kaapse aasvoël is glo die mees bedreigde voëlspesie in Namibië en Phoenix se ouers is tans die enigste broeipaar in aanhouding in die land.

“Phoenix se oorlewing is noodsaaklik vir die wêreldbewaring van hierdie spesie,” het N/a’ankusê in November in ’n mediaverklaring gesê.

Die ander voëls sluit in Phoenix se ouers (Halle en Nesher), twee roofarende (Tom Tom en Acquila), ’n bateleurarend (Ollie), ’n Afrika-grootjagarend (Pirate), ’n reuseooruil (Big Boy) en ’n gevlekte ooruil (Poppy).

Die dag toe die roofvoëls na die N/a’an ku sê-stigting se wildreservaat geneem is. Foto Argief

WETSARTIKEL VAL

N/a’an ku sê is van die mening dat die werk van natuurbewaarders belemmer word deur die onredelike optrede van die ministerie.

“N/a’an ku sê is daartoe verbind om dierewelsyn te verbeter om Namibië ’n wêreldleier in dierewelsyn en -bewaring te maak,” lui die mediaverklaring.

N/a’an ku sê was suksesvol in sy grondwetlike uitdaging van artikel 83(1) van die Natuurbewaringsordonnansie, nr. 4 van 1975. Die artikel het gestel dat die Minister nie verplig word om enige redes te verskaf vir sy weiering van ’n permit, lisensie, registrasie, goedkeuring, toestemming of vrystelling nie. Die artikel is gevolglik ongrondwetlik verklaar.

kristien@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT