Hierdie is ‘n vraag wat ons dames wat wel jag, sekerlik meer gereeld mee gekonfronteer word as ons manlike eweknieë.  Die vraag word dikwels vergesel deur ‘n interessante versameling van gesigsuitdrukkings, wat varieer tussen verbaas wees, afgryse of skok tot partykeer so bietjie van ‘n you go girl bewondering wat in hulle oë glinster. Alles hang af van die persoon wie die vraag vra. Dit ter syde gestel, die vraag bly staan, hoekom hou ek, soos al hoe meer vroue daarbuite, van jag?

My antwoord hierop is eenvoudig. Jag is lekker. Net soos wat skubaduik, kamp, tiervis vang op die Zambezi en tussen berge stap, lekker is. Miskien lê die ware antwoord vasgevang nie in die hoekom nie, maar in die wáár. Al hierdie aktiwiteite vind plaas in die natuur. Dit is dié plek waar ek my menswees vind en my waar my siel verkwik word. Die sanger Appel se woorde maal deur my kop terwyl ek hier sit en skryf … “Los vir my daar, daar doer in die Bosveld, want die lewe begin waar die teerpad eindig. Onder die ou Moepanie voel dit Heilig. Los vir my daar, want daar is ek veilig. Ek wil die oggend begin, met ‘n blik vol koffie, en in die aand gaan bad, onder die hitte van ‘n donkie. Ek is jagter, ek het my siel in die bos verloor …”

Kyk, om ‘n dier te oes is lekker. Die avontuur wat daarmee saamgaan en die andrenalien wat deur jou are pomp voor jy die skoot trek, laat jou lewendig voel. Maar vir my lê die werklike waarde van jag in die gevoel van vrede wat oor my neerdaal wanneer ek in die bos is. Daar is iets besonders daaraan om douvoordag stilletjies in die donker deur die bos te sluip om na die sonsopkoms te kyk – die bos kry sommer lewe wanneer die eerste strale oor die horison kruip. Daar is geen ander tyd in my alledaagse lewe wat ek eintlik tyd neem om diere in hul natuurlike habitat waar te neem nie … sonder dat hulle weet dat ek daar is. Dieselfde geld vir die onbeskryflike gevoel van rustigheid wanneer ek diep onder die see oor koraalriwwe sweef, omsingel deur skole kleurvolle visse. Of wanneer ek bo-op ‘n berg in doodse stilte sit en uitstaar oor die skadus van die valeie onder my. Dit stel my in staat om op ‘n dieper, meer intieme manier met die natuur en my Skepper te skakel. Terwyl ek jag, word my sintuie verhef. Ek gee noukeurig aandag aan elke detail in die bos. Jag wek ‘n diepe waardering en respek vir lewe en dood op in my binneste.  Jag het die vermoë om die mees intense versameling van emosies te genereer – hoop, wanhoop, vreugde, teleurstelling, vrees, verligting en absolute ekstase. Soms sommer die hele spul in een dag! My liefde vir die natuur en buitelewe is iets spesiaals wat ek met my man deel, en dit versterk ons verhouding deurlopend. Ons kinders vind baat daarby, omdat dit ons ‘n geleentheid bied om as gesin iets saam te geniet weg van die gejaag van ons moderne samelewing. Wanneer ons kliënte vergesel op jagte en ander aktiwiteite in ons land se natuurskoon, bied dit vir ons ‘n manier om brood en botter op die tafel te sit en vir ons gesin te sorg. Deur te demonstreer dat wild ekonomiese waarde het, kan jag plaaslike gemeenskappe aktief betrek by pogings om stropers te stop en ons wilde diere te beskerm.

Hoekom jag ek? Ek jag vir vleis, vir bewaring, vir ekonomiese voordeel, en om in die natuur gedompel te word. Dis wie en wat ek is. So die volgende keer as jy lus is om ‘n jagter te oordeel, moenie aanneem dat ons dit doen net vir die pret daarvan nie.

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT