Geen vrektes tot dusver
 
Die voortslepende droogte het veroorsaak dat die poele waarin hierdie seekoeie bly aansienlik opgedroog het en net uit modder bestaan.
 
Ellanie Smit
 
Onlangse ingrypings deur die ministerie van die omgewing en toerisme om seekoeie te red wat in die Salambala-bewaringsgebied gestrand is, was tot dusver suksesvol met geen vrektes nie.

Dit volgens die woordvoerder van die ministerie, Romeo Muyunda, wat gesê het die voortslepende droogte het veroorsaak dat die poele waarin hierdie seekoeie bly aansienlik opgedroog het en net uit modder bestaan.

In Mei is die situasie as kritiek beskou en het onmiddellike optrede vereis. Hy het gesê die ministerie is daartoe verbind om die krisis op te los en dat verskeie belangrike stappe reeds gedoen is.

“Ons jongste poging het die verkryging van ’n hoëkapasiteit-waterpomp en kragopwekker, ter waarde van N$66 531, behels.”

Muyunda het gesê die pomp, wat 18 000 liter per uur lewer, is in Junie geïnstalleer. Die watervlakke in die poel het sedert die installasie daarvan gestyg, wat broodnodige verligting en hoop vir die seekoeie se oorlewing bied, volgens hom.

“Ons doelwit is om voldoende watervlakke in die poel te handhaaf tot die volgende reënseisoen. Hierdie nuwe pomp vervang ’n kleiner eenheid wat in April aangekoop is, wat beperkte doeltreffendheid gehad het.”

Daarbenewens het die ministerie ’n sonkrag-aangedrewe stelsel geïnstalleer om die kragopwekker aan te vul, om te verseker dat water gedurende die dag gepomp word.

Hulle het ook meer as 2 600 liter brandstof aan die bewaringsgebied se personeel verskaf wat verantwoordelik is vir die werking van die pomp.

“Hierdie pogings beklemtoon die ministerie se verbintenis tot wildbewaring en die deurslaggewende rol wat dit speel in die maatskaplike en ekonomiese vooruitgang van gemeenskappe, veral in kommunale gebiede.”

Muyunda het gesê dat terwyl die situasie besig is om te verbeter, “ons dit noukeurig sal monitor en toepaslike maatreëls sal tref soos nodig”.

Hy het gesê die poel bly ’n noodsaaklike bron van drinkwater vir beide wild en vee in die streek.

Die ministerie bly toegewyd daaraan om bewaringsuitdagings te takel en voordele vir alle burgers te bevorder, volgens Muyunda.

republikein@republikein.com.na

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT