Terwyl die leeubevolking in die Etosha Nasionale Park klaarblyklik oor die afgelope jare gestabiliseer het, bly dit van kardinale belang om hul getalle te monitor sodat bestuursbesluite voortdurend aangepas kan word.

In ‘n artikel deur Gail Thomson getiteld “The Lions of Etosha: A Brief History” word verduidelik hoe die park se leeus geraak is deur ‘n vermindering in die getalle van hul prooi – wat op die beurt weer deur heinings, kunsmatige watergate en ander faktore meegebring is.

Die artikel is gebaseer op die navorsingstuk “The historical effects of infrastructure development on the lion population of Etosha National Park, Namibia” deur J. Heydinger, C. Packer en P. Funston wat in die Namibian Journal of Environment Vol. 6 (2022) gepubliseer is.

Thomson sê uit die geskiedenis is dit duidelik dat Etosha ‘n veilige vesting vir verskeie wildspesies is, maar dat die toespan of “afsny” van die ekostelsel van omliggende gebiede ‘n verwoestende uitwerking op leeus se grootste prooi gehad het – sebras en wildebeeste.

“Daar sou baie meer leeus gewees het as die wildebees- en sebrabevolkings nooit in duie gestort het nie,” het Thomson gesê. Sy is van mening dat uitgebreide droogtes as gevolg van klimaatsverandering ook ‘n bedreiging vir die leeus kan inhou en daar om dié rede nie net aangeneem kan word dat hulle veilig in die park sal wees nie.

“Nietemin is dit bewys dat leeus veerkragtig is en hul aktwiteite en voorkeure vir prooi aanpas volgens veranderinge in die ekostelsel.”